’n Kaapse prokureur wat in ’n stadium die veroordeelde bedrieër J. Arthur Brown verteenwoordig het, is met R200 000 beboet weens jare lange belastingbedrog.
Muhammed Rashad Khan (70) het in April skuld beken op 468 aanklagte van belastingbedrog.
Khan, wat uit Claremont in Kaapstad sake gedoen het, is Dinsdag gevonnis.

Muhammed Rashad KhanFoto: Stephen Williams
Landdros V. Mhlanga het in sy uitspraak gesê hy het alle vorme van straf ondersoek om op ’n gepaste vonnis te besluit.
Hy sê hierdie is ernstige oortredings wat oor ’n lang tydperk plaasgevind het.
“Die gemeenskap verwag dat sulke oortreders gestraf moet word omdat hul misdade inmeng in die uitvoering van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se pligte.”
Die oortreder se persoonlike omstandighede moet egter ook in ag geneem word. Khan is ’n pa van drie volwasse en drie minderjarige kinders. Hy is met sy tweede vrou getroud.
Mhlanga sê die hof het korrektiewe toesig oorweeg, maar hy meen dis nie geregverdig nie omdat Khan se persoonlike omstandighede, meer spesifiek of hy die broodwinner van die gesin is, nie ten volle ondersoek is nie. Daar is ook nie ondersoek of sy vrou werk en of sy na die kinders sal kan omsien indien Khan korrektiewe toesig opgelê word nie.
Mhlanga het ook gesê ’n vonnis moet nie uit weerwraak opgelê word nie.
Khan het tussen 2006 en 2018 by verskeie geleenthede versuim om die verskillende soorte belastingvorms soos deur die wet vereis in te dien of die uitstaande belasting te betaal.
Vyf regters van die appèlhof het bevind die hooggeregshof het gefouteer deur nie die minimum voorgeskrewe vonnis van 15 jaar tronkstraf op elke aanklag op te lê nie.
Hy het tussen 2006 en 2015 nie die nodige vorms vir belasting op toegevoegde waarde (spesifiek die BTW 201-vorm) ingedien nie. Kragtens wetgewing moet hy BTW, sowel as belasting op sy lopendebetaalstelsel, wat van werknemers se salaris afgetrek word, aan die SAID oorbetaal. Hy het dit nie gedoen nie.
Hy het van 2007 tot 2013 geen inkomstebelastingaanslag ingedien nie.
Hy was geregistreer as ’n werkgewer vir die vaardigheidsontwikkelingsheffings, asook by die Werkloosheidversekeringsfonds, maar het nie hierdie heffings betaal nie. Die SAID het hom in dié tydperk die geleentheid gegee om die betalings te doen, maar hy het nie die sperdatum gehaal nie.
Hy het ook sy adres verander sonder om die SAID daaroor in te lig.
Mhlanga het hom op aanklagte een tot vyf ’n boete van R200 000 of een jaar tronkstraf opgelê.
Hy is dieselfde straf op die res van die aanklagte opgelê, maar dit is in geheel vir vyf jaar opgeskort.
Khan was in ’n stadium Brown, voormalige grootbaas van Fidentia, se prokureur.
Brown dien ’n vonnis van 15 jaar tronkstraf uit weens bedrog van R300 miljoen.
Die hooggeregshof in Kaapstad het Brown in 2013 aanvanklik net met R150 000 beboet, maar die staat het daarteen geappelleer.
Vyf regters van die appèlhof het bevind die hooggeregshof het gefouteer deur nie die minimum voorgeskrewe vonnis van 15 jaar tronkstraf op elke aanklag op te lê nie.
Die vonnisse word samelopend uitgedien.