Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
J9-trust: Amor is kwaadwillig, hoor hof
Amor Vittone Foto: Cornél van Heerden

Die sangeres Amor Vittone se hofaansoek in Bloemfontein oor die J9-trust van haar oorlede man, die Springbok Joost van der Westhuizen, is kwaadwillig en gaan om persoonlike gewin, sê adv. Dawie Joubert SC.

Hy het in die hooggeregshof in Bloemfontein betoog die feit dat sy steeds met die aansoek voortgaan terwyl die trustees van die trust behoorlik na haar kinders se belange omsien, is nie weldeurdag nie en onbesonne.

Joubert, wat optree namens Joost se broers, Pieter en Gustav, en Gavin Varejes, die aangestelde trustees, het gesê Vittone wil nie hê dat Joost se familie die trust, waarvan haar twee kinders die begunstigdes is, beheer nie.

Sy vra in haar aansoek voor regters Corné van Zyl en Philip Loubser dat die meester van die hooggeregshof in Bloemfontein se besluit om die twee Van der Westhuizen-broers en Varejes aan te stel hersien en tersyde gestel word. Verder vra sy dat Cornelius Erasmus Botha, ’n prokureur, as trustee in hul plek aangestel word.

Die regters het uitspraak voorbehou.

Adv. Luke Zazeraj het Maandag namens Vittone betoog dat die meester se aanstelling van die trustees op 9 Oktober verlede jaar onreëlmatig en onregmatig was.

Die dokument ingevolge waarvan die meester die aanstellings gemaak het, is Joost se tweede testament, wat nog in die hof betwis word.

Daar was ook nog Vittone se aansoek in die hooggeregshof in Pretoria hangende oor die aanstelling van die onafhanklike prokureur, toe die meester in Bloemfontein, glo welwetend daarvan, die huidige aanstellings van die trustees gemaak het.

Joubert het betoog dat die meester in Bloemfontein presies gedoen het wat van hom verwag word toe hy hulle aangestel het.

Hy het gesê ongeag die geldigheid van die tweede testament is dit ’n skriftelike dokument waarin Joost sy wens oor die trustees van sy trust uitgespreek het.

Voor Joost se dood in Februarie verlede jaar en ook ná sy dood het sy broer Pieter na sy sake omgesien en ook die trust bestuur.

Die twee kinders, Kylie (11) en Jordan (13), het heeltyds hul onderhoudsgeld uit die trust gekry en dit gaan ook steeds voort sedert Pieter en die ander twee se aanstelling.

Die meester het ook nie ’n diskresie uitgeoefen of ’n besluit geneem toe hy hulle aangestel het nie. Hy het net Joost se wens uitgevoer. Daar is dus nie ’n besluit of diskresie wat hersien kan word nie, het Joubert betoog.

Die grootste bates van die trust is twee meenthuise in Johannesburg, wat uitverhuur word.

Uit die hofstukke is dit duidelik dat Vittone en die Van der Westhuizens nie langs dieselfde vuur sit nie.

Meer oor:  Amor Vittone
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.