Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Jason Rohde se vonnis-oplegging uitgestel

Jason Rohde se drie dogters sal ter versagting van hul pa se vonnis getuig – ’n vonnis van ’n minimum van 15 jaar tronkstraf.

Daar is reeds vroeër die week met sy oudste dogter, Kathryn Rohde, gekonsulteer, maar Rohde se regspan sal eers aanstaande week met sy 18-jarige tweeling, Johanna Georgie Rohde en Alexandra Olivia Rohde, konsulteer nadat hulle hul matriek-eindeksamen einde vandeesweek voltooi het.

Dit is hul getuienis wat van kritieke belang vir Rohde se vonnisoplegging is. Dit moet die hof probeer oortuig dat daar dwingende en wesenlike omstandighede bestaan wat die hof van die minimum voorgeskrewe vonnis kan laat afwyk.

Jason Rohde Woensdag pas nadat hy in die beskuldigdebank in die hooggeregshof in Kaapstad gaan sit het. Foto: Jaco Marais

Hy is nou die enigste ouer en sy kinders maak staat op hom en sal steeds op hom staat maak om hul huis in Plettenbergbaai te behou, asook om hulle te versorg en vir hul verdere onderrig te betaal.

Hierdie inligting is deel van Tony Mostert, Rohde se prokureur, se beëdigde verklaring wat Woensdag ter ondersteunings vir ’n aansoek om uitstel by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien is.

Rohde is op 8 November skuldig bevind aan die moord op sy vrou, Susan.

Netjies in ’n pak klere met ’n blou das sit Jason Rohde Woensdag en wag vir sy vonnisoplegging om te begin. Die saak is egter tot 5 Desember uitgestel. Foto: Jaco Marais

Hy was die uitvoerende hoof van Sotheby’s Realty in Suid-Afrika en het saam met Susan van 22 tot 24 Julie 2016 die maatskappy se jaarlikse konferensie op die Spier-landgoed buite Stellenbosch bygewoon toe hy haar vermoor het. Hy het ’n buite-egtelike verhouding met ’n kollega, Jolene Alterskye, gehad, waarvan Susan reeds vroeër uitgevind het.

Ná Rohde se skuldigbevinding is sy borgtog teruggetrek en ’n nuwe aansoek is van die hand gewys. Hy was Woensdag geklee in ’n donkerblou pak en wit hemp met ’n ligblou das. Hy het drafskoene aangehad.

Adv. Graham van der Spuy, sy advokaat, het regter Gayaat Salie-Hlophe versoek om sy aansoek om ’n uitstel toe te staan om verskeie redes, maar die belangrikste daarvan is dat hulle nog net met Kathryn kon konsulteer en nog nie met die tweeling nie.

Verder wil die verdediging ook ’n verslag van Rohde se psigiater, dr. Stuart Stollof, bekom en daar moet ook met hom gekonsulteer word voordat hy ter versagting van vonnis gaan getuig. Stollof het egter baie probleme gehad om met Rohde te konsulteer in die Pollsmoor-gevangenis waar hy aangehou word, aldus Van der Spuy.

Van der Spuy het egter aangedui Rohde sal nie self getuig nie.

Die staat het nie die aansoek teengestaan nie en gesê hy verstaan die posisie wat die beskuldigde se regspan hulself in bevind.

Daarbenewens het die staat reeds twee verslae, een van dr. Henk Eichhorn, die dogters se sielkundige, oor die kinders, asook ’n verslag van dr. N. Abrahams van die Mediese Navorsingsraad, aan die verdediging gegee.

Netjies in ’n pak klere met ’n blou das sit Jason Rohde Woensdag en wag vir sy vonnisoplegging om te begin. Die saak is egter tot 5 Desember uitgestel. Foto: Jaco Marais

Van der Spuy het gesê hulle het eers Dinsdag dié verslae bekom en het tyd nodig om dit na te gaan.

Salie-Hlophe het gesê hoewel sy nie wil hê die saak moet voortsleep nie, is sy van mening dat dit in die belang van geregtigheid is om Rohde en sy regspan nog tyd te gun om behoorlik vir vonnisoplegging voor te berei.

Die vonnisoplegging sal op 5 Desember begin.

Meer oor:  Jason Rohde  |  Kaapstad  |  Hooggeregshof  |  Vonnisoplegging  |  Uitgestel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.