Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Joernalis verlief op ’n tronkvoël

Le Roux Steyn (22), een van die aangeklaagdes in die Krugersdorp-afspraakmoordsaak, het oënskynlik ’n verhouding met ’n joernalis van Huisgenoot.

Zak Valentine en Le Roux Steyn in die hooggeregshof in Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

Steyn is die derde van die aangeklaagdes in die bisarre moordsaak wat in die tronk “liefde gevind het”. Uit teksboodskappe wat Rapport gesien het sowel as gesprekke met mense na aan die hofsaak, blyk dit dat hy ’n verhouding het met die 28-jarige joernalis Marizka Coetzer, wat hy ontmoet het toe sy oor die saak vir Huisgenoot begin skryf het.

Coetzer skryf ook ’n boek oor die moorde wat ná die verhoor gepubliseer gaan word.

Le Roux het in Mei skuld erken op 18 aanklagte van onder meer moord, roof en rampokkery. Hy is 35 jaar tronkstraf opgelê waarvan tien jaar opgeskort is op voorwaarde dat hy as staatsgetuie teen sy mede-beskuldigdes getuig.

‘Ek oordeel jou glad nie,’ skryf Elzaan.

Onder die ander beskuldigdes is sy ma, Marinda Steyn, suster, Marcel, Zak Valen­tine en Cecilia Steyn (onverwant). Hulle was almal deel van die groep Electus Per Deus wat glo as moordbende opgetree het onder die vaandel van ’n Christelike bediening.

Altesaam 11 mense is vermoor.

Rapport het verlede week berig Cecilia het ’n lewensmaat in die tronk gevind en Zak het ook ’n lojale vrou, Elzaan Nel (38), wat hom bystaan. Zak word ook van die moord op sy destydse vrou, Mikeila, aangekla.

In WhatsApp-boodskappe wat Rapport gesien het, ondersteun Elzaan en Marizka mekaar as die “wederhelftes” van die twee gevangenes. Marizka ontboesem haar oor haar en Le Roux se nuutgevonde liefde.

Die joernalis Marizka Coetzer.

Die volledige inhoud van die meer persoonlike boodskappe word op regsadvies weerhou.

Uit die boodskappe blyk dit egter dat Le Roux selfs vir Marizka, wat getroud is, gevra het of sy bereid sal wees om vir hom te wag. Elzaan op haar beurt bied konstant raad en ondersteuning aan Marizka, wat klaarblyklik sedert Februarie ’n verhouding met Le Roux het.

In ’n stadium raai Elzaan haar af om vir Le Roux ’n drukkie in die hof te gee: “As ek vir jou raad kan gee . . . Moet dit nie doen nie . . . Ek weet julle wil graag Marizka, maar dit gaan groot poefies veroorsaak . . .”

Marizka en sy skerts in een gesprek dat sy dalk self in ’n Huisgenoot-artikel kan eindig.

Cecilia Steyn het ’n lewensmaat in die tronk gevind. Foto: Deon Raath

Die twee vroue deel ook Bybelversies en gebede om mekaar te bemoedig.

Elzaan simpatiseer gereeld met Marizka wat verlang na Le Roux. “Ek oordeel jou glad nie,” skryf Elzaan.

Die verhouding tussen Marizka, wie se verhouding met haar man glo intussen verbrokkel het, en Le Roux word in die boodskappe beskryf as “meer as liefde”.

Na wat Rapport verneem, is die verhouding tussen die twee vriendinne egter nie meer so heg nie. Le Roux het vroeër vanjaar skuld beken en die afgelope week teen sy eertydse vriende begin getuig.

Elzaan het in 2016 in ’n onderhoud met Rapport gesê Zak is nie die monster wat daar beweer word hy is nie. Sy het hom in April daardie jaar ontmoet.

Huisgenoot het Vrydag, net ure nadat Rapport vir Marizka genader het vir kommentaar oor die verhouding, in ’n verklaring gesê hulle het ’n joernalis geskors hangende die uitkoms van ’n interne ondersoek.

“Dit het dié week onder die aandag van die redakteur van Huisgenoot, Yvonne Beyers, gekom dat daar bewerings is dat een van Huisgenoot se joernaliste ’n potensieel onprofessionele verhouding het met een van die veroordeelde misdadigers en ander rolspelers in die Krugersdorp-moordsaak,” lui die verklaring.

“Hangende die uitkoms van Huisgenoot se interne ondersoek kan Huisgenoot nie verder kommentaar lewer nie.”

Marizka het nie op Rapport se versoek om kommentaar gereageer nie.

Volgens ’n bron wat nou by die saak betrokke is, is Le Roux tot sy ore toe verlief op Marizka. “Sy was elke naweek by hom in die tronk. Maar jy moet onthou, hulle kan nie ’n normale verhouding hê nie omdat hy in aanhouding is. Sy kan hom net daar besoek en hulle kan mekaar seker bel,” het dié bron gesê.

Le Roux is nog nie geregtig op kontakbesoeke nie.

Meer oor:  Le Roux Steyn  |  Krugersdorp  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.