Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Leibrandt: Jong aanrander kry opgeskorte vonnis

Francois Leibrandt het Dinsdag “uit sy hart uit” jammer gesê vir “oom Lionel en die Lewis-gesin” nadat hy die ouer man destyds ernstig aangerand het.

Francois Leibrandt tydens ’n hofverskyning vir ’n ander aanrandingsaak. Foto: Deaan Vivier.

Leibrandt (24) is vroeër skuldig bevind op ’n aanklag dat hy op 9 Julie 2016 vir Lionel Lewis aangerand het met die opset om hom ernstig te beseer.

Die beskuldigde was toe 21 jaar oud. Lewis was 53. Leibrandt het hom geslaan en geskop nadat Lewis hom aangespreek het oor hoe Leibrandt in ’n parkeerterrein bestuur het.

Landdros Adriaan Bekker het die jong man Dinsdag gevonnis tot 18 maande tronkstraf wat opgeskort is vir vyf jaar, op voorwaarde dat hy nie weer aan aanranding skuldig bevind word nie.

Leibrandt moet ook ’n boete van R10 000 betaal.

Hy bly egter in aanhouding nadat hy ses maande gelede borgtog in ’n ander saak geweier is.

Die beskuldige het Dinsdag voor vonnisoplegging ’n brief waarin hy om vergifnis vra, by die hof ingedien.

Hiervolgens was hy destyds “nie op ’n regte plek” in sy lewe nie en het hy nie besef waaroor die lewe gaan nie.

Waar hy altyd geglo het dat aggressie “die oplossing is om goed uit te sorteer”, het hy ontdek dat dit eintlik sy grootste vyand is.

“Ek is nie die tipe persoon wat julle dink ek is nie, edelagbare, ek het ook familie, ek het ook iets waarop ek kan trots wees, ek het nie net kwaad gedoen nie . . .” lui sy brief.

Leibrandt het bygevoeg dat hy nou op die harde manier geleer het en dat sy lewe verwoes is deur sy “verkeerde besluite” en vriende.

Sy regsverteenwoordiger, Cara Alberts, het betoog dat vonnisoplegging oor meer as net vergelding gaan.

Sy het gesê die beskuldigde is op die ouderdom van agt maande aangeneem deur die Leibrandts wat hom gered het uit “baie slegte maatskaplik-ekonomiese omstandighede”.

Hy was 16 toe sy suster dood is, wat ’n groot trauma vir die familie was.

“Die beskuldigde het kort daarna aggressie-probleme ontwikkel. Hy besef dit nou en werk daaraan. Hierdie aggressie-probleem word tot die uiterste gedruk deur alkohol.

“Die beskuldigde leer nou van respek, want Suid-Afrika het ’n probleem met jong mans wat gewelddadig en disrespekvol is – ’n testosteroon-probleem.

’n Deel van die brief wat Francois Leibrandt by die hof ingehandig het.

“Ongelukkig het dit die toesluit van die beskuldigde gekos voordat hy sy probleem besef en daaraan begin werk het,” het Alberts aangevoer.

Sy het gesê Leibrandt was ’n harde werker wat sy eie staalonderneming gehad en 15 mense werk gegee het.

“En toe stort sy wêreld in duie toe hy borgtog geweier is en tronk toe gaan. Hy is reeds ses maande in aanhouding. Hy kan niks anders in die tronk doen as om te dink nie.

“Hierdie man het sy les geleer,” het Alberts bygevoeg.

Treasure Ndou, die aanklaer, het betoog Leibrandt se huidige situasie is presies waaraan hy moes gedink het voordat hy ’n misdaad gepleeg het.

“Wat die misdryf nog ernstiger maak, is dat die beskuldigde geen respek vir ’n ouer persoon (Lewis) gewys het nie.

Ongelukkig het dit die toesluit van die beskuldigde gekos voordat hy sy probleem besef en daaraan begin werk het.

“Hy is in aanhouding vir (nog) ’n ander saak, juis omdat hy ’n persoon is wat geweld gebruik om probleme op te los,” het sy gesê.

Bekker het in ag geneem dat Leibrandt ’n eerste oortreder is en dat sy tyd in aanhouding hom tot nugtere denke gestem het.

“Die beskuldigde het (tydens die aanranding op Lewis) totaal oorboord gegaan en oorreageer. Dit gebeur omdat die beskuldigde toegelaat het dat sy humeur die oorhand kry,” het die landdros gesê.

Hy het egter ook gevoel dat Leibrandt nou besef sy optrede was onaanvaarbaar.

* Lionel Lewis en sy vrou, Annalie, het ná vonnisoplegging gesê hulle aanvaar Leibrandt se verskoning. “Ons bid vir hom en sy familie en dat hy tot bekering sal kom,” het hulle gesê.

Meer oor:  Lionel Lewis  |  Francois Leibrandt  |  Pretoria  |  Aangerand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.