Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Jong aansoeker as adjunk- hoofregter in VS aanbeveel
Regter Nobulawo Martha Mbhele is een van drie kandidate wat vir die pos as adjunkhoofregter in die Vrystaat aansoek gedoen het. Sy is Donderdagmiddag deur die Regterlike Dienstekommissie vir die pos aanbeveel. Foto: Verskaf

Een van die jongste regters in die land, Nobulawo Martha Mbhele (47), is Donderdag deur die Regterlike Dienstekommissie (RDK) vir die pos van adjunkhoofregter in die Vrystaat aanbeveel.

Mbhele, ’n boorling van Lindley, is in 2016 as regter in die Vrystaat aangestel.

Drie regters, Mbhele, J.P. Daffue en Soma Naidoo, het aansoek gedoen vir die pos as adjunkhoofregter in die Vrystaatse hooggeregshof.

Daffue moes Donderdag as die enigste wit, manlike aansoeker heelwat vrae oor transformasie en geslagsgelykheid beantwoord toe hy voor die RDK in Sandton verskyn het.

Daffue is deur die Vrystaatse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Mamiki Qabathe, gevra hoekom daar net swart kinders in jeugsentrums in die Vrystaat is terwyl wit kinders in die sorg van hul voogde geplaas word.

Daffue het aan Qabathe gesê dit is moeilik om te weet wat die rede daarvoor is, omdat die kinderhof besluit waar kinders geplaas word.

Qabathe het gesê daar is onregverdigheid, want in al drie sentrums in die Vrystaat is daar net swart kinders.

Daffue het geantwoord dat hy hieraan aandag sal gee, aangesien dit die eerste keer is wat hy daarvan hoor.

Hy is ook gevra oor sy bydrae tot transformasie. Hy het gesê hy het al heelparty jong, swart regslui gehelp om hul voete te vind en beywer hom steeds daarvoor.

“Daar is baie swart regsgeleerdes wat daarvan kan getuig,” het Daffue gesê.

Hy het aan die kommissie gesê dat van sy hofuitsprake in regskringe as rigtinggewend beskou word en dat hy aan harde werk glo.

Daffue het in ’n stadium gesê daar is geen pligstaat vir die adjunkhoofregter nie en dat dit die adjunk se plig is om die hoofregter by te staan.

Julius Malema het Daffue hierop aangeval.

“Doen jy aansoek vir ’n pos sonder verantwoordelikheid of wil jy net die eer hê sonder die verantwoordelikhede? Wat is die pligte van die adjunk?”

Daffue het aan Malema gesê die adjunkhoofregter se plig is om die hoofregter by te staan, daar is nie ’n spesifieke werksbeskrywing nie.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het Mbhele uitgevra oor die verskeie ampte wat sy as leier in organisasies beklee het.

Mogoeng het haar gevra of sy die mas sal kan opkom, omdat sy nog relatief jonk is.

Mbhele het geantwoord dat sy gemaklik is daarmee om die leiding te neem, selfs wanneer sy jonger as ander is.

Sy is deur Qabathe gevra wat sy sal doen sodat hofsake vinniger afgehandel word, veral waar kwesbare mense die slagoffers is.

Sy het geantwoord dat daar reeds ’n stelsel is wat gebruik word om te monitor dat verhore vinnig afgehandel word.

Malema wou hierna, met verwysing na Mbhele se jeugdigheid, wat meermale ter sprake gekom het, van haar weet of sy ’n Christen is.

Mbhele het bevestigend geantwoord.

“Hoe oud was Jesus Christus toe hy doodgemaak is?

“Die Bybel sê hy was 33 jaar oud.”

“Presies,” het Malema gesê, en nie enige verdere vrae gevra nie.

Naidoo het aan die RDK vertel hoe sy talle stelsels in howe reggeruk het en onder meer die siviele hof in Durban so verbeter het dat dit een van die beste in die land geword het.

Hierna het sy die gesinshof in Durban verbeter. Sy is toe gevra om landwyd te help om howe se stelsels te verbeter.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.