Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Jongboer kry interdik ná ‘teistering’ op Facebook

Noordwes se Jongboer van die Jaar moes drie dae voor sy aanwysing ’n dringende interdik teen ’n man bekom wat hom wou “ontbloot” as ’n kwansuise waterdief en hardvogtige man wat ’n 70-jarige vrou op straat gesit het.

Dawie Rothmann Foto: Agri Noordwes | Facebook

Dawie Rothmann (38), wat op 12 April bekroon is, was ontsteld toe Jan Venter (47), van Brits, ook die borge van die Jongboer-kompetisie en selfs ’n DA-LP op sosiale media genader het om hom sleg te sê.

Volgens Rothmann se hofstukke wat by die hooggeregshof in Pretoria ingedien is, was Venter vasbeslote om sy kanse om die kompetisie te wen, te “saboteer”.

Die hof het Venter in ’n tussentydse bevel verbied om Rothmann en sy familieboerdery te teister, te dreig, te intimideer of te beledig.

Venter moet sy opponerende eedsverklaring teen einde April by die hof indien as hy een wil indien.

Die saak tussen die twee is nog nie afgehandel nie.

Jan Venter Foto: Facebook

Rothmann, van MA Rothmann & Seuns-boerdery by Brits, sê in sy hofstukke om hom “uit te kryt as ’n hartelose, misdadige en onetiese boer en sakeman”, doen sy reputasie en sakeverhoudinge skade aan.

“Om nie eens van die (skade aan die) lofbetuiging te praat wat ek kan verwerf as Jongboer van die Jaar nie.”

Dit het alles op 19 Maart begin toe Venter vir Leon Basson, DA-LP en -woordvoerder oor water en sanitasie, op Facebook bevraagteken het.

Venter het Basson gevra of hy “geen ruggraat” het om “misbruik van water” deur sy vriend Doeks Rothmann te ondersoek nie. Doeks is Dawie se pa.

Rothmann jr. sê hieroor aan die hof Venter het blatant en baie openlik die indruk gewek dat hy of die Rothmann-boerdery hulle skuldig maak aan die misbruik van ’n natuurlike hulpbron. Dít is ongegronde, lasterlike aantygings wat hom in ’n baie swak lig stel – nie net by ’n parlementslid nie, maar ook by die algemene publiek en die beoordelaars van die kompetisie.

Rothmann het Venter se Facebook-boodskappe by die hof ingedien.

’n Verdere een lui: “Tog so hartseer om te dink een van jong boer van jaar finaliste dawie rothman is geen gevoel vir niks buiten geld. Wat geen respek het vir niemand ou mense boelie en sy bure skade aan doen (sic).”

Venter het ’n ander boodskap op Santam, ’n borg van die kompetisie, se blad gaan skryf wat lui dat Rothmann “boorgat watter” (sic) misbruik.

Venter het gesê dit is “hardseer” dat Rothmann ’n finalis in die kompetisie is.

Venter beweer verder hierin dat Rothmann ’n “weduwee van 70 uit ’n huis waar sy 21 jar (sic) bly” op straat gegooi het.

“Ek het bewyse vir als kan my kontak as dit die jong boer is dan sien ek swaar lig vir ons boerdery van Suid-Afrika dankie Jan Venter,” lui die boodskap.

Rothmann sê ’n “salvo” van boodskappe het daarna gevolg.

Sy prokureurs het Venter gevra vir ’n onderneming om op te hou om hom te belaster, maar hy het nie daaraan gehoor gegee nie.

Dieselfde aand het Venter op Facebook vir Rothmann en Basson gevra hoekom hulle so “gretig” is met ’n dringende hofaansoek teen hom.

“Ek herhaal weer wat ek gese het vir Agri nw want is waar en ek het bewyse. Mnr. Rothmann misbruik boorgat water . . .”

Dus was die hof ál uitweg vir hom, sê Rothmann.

Die Rothmanns bedryf ’n groente-en-veeboerdery en verskaf vars produkte aan onder meer Pick n Pay en Freshline, asook aan ’n rits plaaslike groentewinkels en slaghuise.

Rothmann jr. is ook lid van die Brits-landbouvereniging, Agri SA en TLU.

Meer oor:  Teistering  |  Jongboer Van Die Jaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.