Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Jooste sal dán in hof moet baklei teen likwidasie

Markus Jooste sal op 8 Februarie aan die hof moet verduidelik hoekom een van sy maatskappye nie gelikwideer moet word nie.

Absa het vroeg in Desember ’n aansoek om Mayfair Speculators te likwideer by die hof ingedien in ’n poging om R226 miljoen se skuld te verhaal.

Absa het ’n tweede aansoek by die hof ingedien om Mayfair Holdings, wat Mayfair Speculators besit, se bates te vries.

Absa wil die skuld van R226 miljoen deur die verkope van aandele en bates verhaal.

Luidens die hofstukke het Hester Cornelia van Niekerk, vir Absa, die aansoek ingedien teen Mayfair Speculators, waarvan Markus Jooste en Stefan Potgieter, sy skoonseun, direkteure is.

Adv. Gavin Woodland, SC, wat Absa verteenwoordig, gesels met adv. Brendan Manca, wat Mayfair Speculators verteenwoordig.Foto: Adrian de Kock

Die partye het die saak Vrydag na 23 Januarie probeer uitstel, maar regter Siraj Desai was nie tevrede met ’n blote uitstel nie.

“Dié saak het implikasies ver buite hierdie aansoek. Dit is van uiterste belang vir baie mense,” het hy gesê.

Desai het die partye aangeraai om ’n verhoofdatum by die griffier van die hof te kry.

Partye het net voor middagete na die hof teruggekeer en aan Desai gesê die saak kan na 8 Februarie 2018 vir verhoor uitgestel word.

Dié saak het implikasies ver buite hierdie aansoek. Dit is van uiterste belang vir baie mense
Regter Siraj Desai

Ingevolge ’n tussentydse bevel moet Jooste sy opponerende repliek in Januarie by die hof indien.

Mayfair Speculators se hoofbate is sy aandele in Steinhoff International, wat onder die naam SBG gehou word.

Absa het in Desember 2016 ooreengekom om ’n oortrokke gerief met ’n limiet van R350,6 miljoen en bankwaarborge van R14,4 miljoen te aan Mayfair Speculators te verskaf, onderhewig aan verskeie voorwaardes. Indien die voorwaardes nie nagekom word nie, kan Absa die ooreenkoms kanselleer.

Jooste het ook ’n borgstelling van nie meer nie as R100 miljoen (gedateer op 15 November 2007) en ’n deel van die SBG-aandele gedateer 28 Junie 2005 aan Absa gesedeer.

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff. Foto: Jaco Visser

Kragtens die voorwaardes vir die lenings het Mayfair Speculators onderneem dat die uitstaande bedrag van die lening nooit 50% van die waarde van die aandele sou oorskry nie. Bykomende voorwaardes is gestel waaraan Mayfair Speculators sou moes voldoen as die uitstaande bedrag wel 50%, en later ook 60% en 70% van die waarde van die aandele oorskry het.

As Mayfair nie hieraan kan voldoen nie, kan Absa sy regte opeis.

Steinhoff se aandeelprys het tussen 5 en 7 Desember van R46,25 tot R10 gedaal nadat Jooste as Steinhoff se uitvoerende hoof bedank het.

Dit het veroorsaak dat Mayfair se ooreenkoms met Absa nie nagekom word nie.

Op ’n vergadering op 8 Desember vanjaar is Absa meegedeel dat Mayfair Speculators tegnies en kommersieel insolvent is en dat Jooste nie sy verpligtinge kan nakom nie.

Benewens Absa word Investec R250 miljoen en Sanlam sowat R800 miljoen geskuld.

Meer oor:  Steinhoff  |  Markus Jooste  |  Regter Siraj Desai  |  Hofgeding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.