Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Julies-moord: Regter ontevrede oor ondersoek nog sloer
’n Hartseer Bridget Harris, Nathaniel Julies se ma, Donderdag buite die hof. Foto: Brümilda Swartbooi

Die ondersoekbeampte in die moordsaak van Nathaniel Julies (16) is vandeesweek geroskam omdat die saak vir verdere ondersoek uitgestel moes word.

Regter Majake Mabesele het Donderdag in die hooggeregshof in Johannesburg gesê dat ondersoekwerk in die laerhowe gedoen moet word.

“Dit is nie hoe dit werk nie. Sodra die saak in die hooggeregshof is, moet ons voortgaan. Ons sit met baie sake.”

Nathaniel, wat Downsindroom gehad het, is verlede jaar in Augustus naby sy ouerhuis in Eldorado Park geskiet toe hy die aand sy gunstelingkoekies gaan koop het.

Sy ma, Bridget Harris, het verlede jaar gesê volgens die polisie het Nathaniel glo in die kruisvuur van ’n bendegeveg beland.

Sers. Foster Netshiongolo, konst. Caylene Whiteboy en sers. Simon (Scorpion) Ndyalvane is kort ná sy dood in hegtenis geneem.

Ndyalvane en Whiteboy word van moord, die onwettige besit van ammunisie, regsverydeling en die afvuur van ’n vuurwapen in die openbaar aangekla. Netshiongolo word aangekla van regsverydeling, die onwettige besit van ammunisie en dat hy ’n begunstiger van die skietdood was.

Konst. Caylene Whiteboy Foto: Brümilda Swartbooi
Sers. Simon (Scorpion) Ndyalvane Foto: Brümilda Swartbooi

Harris was Donderdag emosioneel buite die hof.

John Moodey, ’n familiewoordvoerder, het buite die hof aan die media gesê hy hoop en bid die saak sal teen die einde van die jaar afgehandel wees. Volgens hom is die familie ook teleurgesteld dat die saak uitgestel is.

“Ek dink die regter het dit baie duidelik gestel dat hy nie onnodige vertragings sal duld nie, want onder normale omstandighede kom sake eers na die hooggeregshof nadat alle ondersoeke afgehandel is. Die gesin is radeloos. Ons het gehoop dat die saak vandag sou voortgaan.”

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het gesê die NVG sal toesien dat die ondersoek teen die volgende verskyning afgehandel is.

“Die aanklaer wat die saak oorgeneem het, is ontevrede met sekere aspekte en wil hê die ondersoekbeampte moet die ondersoeke afhandel wat daarmee verband hou,” het Mjonondwane gesê.

Die saak is tot 28 Mei uitgestel.

Ndyalvane en Whiteboy bly in aanhouding, terwyl Netshiongolo steeds op borgtog is.

Sers. Foster Netshiongolo Foto: Brümilda Swartbooi

News24 berig Netshiongolo is verlede jaar in Desember op borgtog van R10 000 vrygelaat nadat hy ’n tweede keer aansoek gedoen het.

Verlede jaar tydens die beskuldigdes se borgtogaansoek in die landdroshof in Protea, Soweto, is ’n verklaring van Whiteboy voorgelees waarin sy sê dat sy die skoot op die aand van Nathaniel se skietdood afgevuur het.

Luidens die verklaring het Whiteboy die vuurwapen vroeër in Freedom Park gebruik, maar dit was met rubberkoeëls gelaai. Toe sy ’n skoot afvuur om Nathaniel af te skrik, was sy onbewus daarvan dat die vuurwapen intussen met skerp ammunisie gelaai is.

Daar is ook voorheen in die hof gehoor dat Netshiongolo met siekteverlof was toe hy glo gebel en gevra is om patroondoppies op die toneel “te plant” sodat dit lyk asof daar ’n skietgeveg was.

Die NVG kon nie Donderdagmiddag die naam van die ondersoekbeampte verskaf nie.

Meer oor:  Johannesburg  |  Moordsaak  |  Nathaniel Julies  |  Hooggeregshof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.