Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Jurie Roux ontken enige skuld
Jurie Roux het die aantygings van finansiële misdrywe teen hom ontken. Foto: Nasief Manie

Jurie Roux ontken die aantygings van finansiële wanbestuur teen hom en vra dat die saak teen hom uitgegooi moet word.

Roux erken in sy verweer hy het ’n plig teenoor die Universiteit Stellenbosch (US) gehad om “eerlik, lojaal en in goeder trou” in die uitvoering van sy pligte op te tree, en die belange van die universiteit te bevorder.

Die US dagvaar Roux, huidige uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), vir skadevergoeding van meer as R35 miljoen. Hy was voorheen werksaam by die US.

Roux ontken dat hy kontrakbreuk ten tyde van sy beweerde finansiële misdrywe by die universiteit gepleeg het.

Bogenoemde blyk uit Roux se verweerskrif wat by die hooggeregshof in Kaapstad en die US se prokureurs ingedien is.

Drie afsonderlike sperdatums met die indien van sy verweerskrif is nie gehaal nie en dit is eers Dinsdag ingedien.

Die US beweer dat Roux en Chris de Beer, die US se destydse hoof van studentegeld, reusebedrae geld op onregmatige wyse na onder meer die Maties-rugbyklub gekanaliseer het.

Roux was ten tyde van die beweerde misdrywe die US se direkteur van finansiële beplanning en batebestuur.

In die verweerskrif erken Roux onder meer:

* Dat hy in 1994 ’n dienskontrak met die US gesluit het

* Dat hy van 2002 tot 2007 as Direkteur: finansiële beplanning en batebestuur opgetree het, en vanaf 2007 tot 2010 as Senior Direkteur: finansiële beplanning.

* Dat sy aanstelling en voortgesette indiensname deur die US onderworpe was aan die US se tugprosedure.

* Dat die US-raad die bates van die universiteit moet bestuur; en

* Dat hy die US se bates aan die hand van die US se statutêre en regulatoriese raamwerk moes bestuur.

Roux ontken dat hy tussen 2002 en 2010 die US se elektroniese boekhoudingsprogrammatuur, sonder die raad se medewete, met ’n spoorlose rekenaarprogram geïnfiltreer en die reserwes met sowat R35 miljoen aangepas het.

Roux ontken dat hy bogenoemde bedrag na verskeie kostepunte, waaronder die Maties-rugbyklub, versprei het.

Roux verwerp ook die US se aannames dat hy: die US se “onbeperkte reserwes”, sonder om ’n spoor of rekord agter te laat, verminder het; wanvoorstellings van die US se rekenkundige rekords gemaak het; die US se bates misbruik het wat veroorsaak het dat die universiteit verarm en skade gely het.

Hy ontken ook dat hy ’n bedrag van meer as R1 miljoen onregmatig aan die Westelike Provinsie Rugbyinstituut oorbetaal het.

Die US is oortuig die betalings was ongemagtig en strydig met die universiteit se prosesse.

Roux ontken die aantygings, asook dat hy die US as gevolg hiervan sowat R37 116 402 verskuldig is.

Hy het gevra dat die aantygings teen hom met koste van die hand gewys moet word.

Daar sal nou vir ’n hofdatum aansoek gedoen word.

Intussen het Frikkie Erasmus, Roux se prokureur, hom as De Beer se prokureur van rekord onttrek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.