Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
K-woord: MRK bied skikking aan Catzavelos

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) het ’n skikkingsooreenkoms aan Adam Catzavelos, wat van rassisme beskuldig word, aangebied waarvolgens hy R200 000 moet opdok en ook om verskoning moet vra.

Catzavelos het in die pekel beland nadat hy in 2018 op ’n vakansie in Griekeland ’n video gemaak het waarin hy die k-woord gebruik.

“Ons het op 1 Augustus ’n skikkingsvoorstel ingedien. Ons het hom en sy regspan tot vandag kans gegee om na ons te kom. Hulle stem met die grootste deel van die voorstel saam en het net twee probleme met die ooreenkoms – die beperking wat op Catzavelos geplaas word om rassistiese uitlatings in die toekoms te maak, asook die skadevergoedingseis,” sê Buang Jones, voorsitter van die MRK in Gauteng.

Adam Catzavelos
Adam Catzavelos. Foto: Simon Sonnekus

“Ons eis R200 000 omdat ons nie met minder as dié bedrag kan skik nie. Ons het die presedent in die Angelo Agrizzi-saak en ook in ’n ander saak in Springs gebruik.”

Die kommissie het Catzavelos tyd gegun om die ooreenkoms te oorweeg totdat die saak in die gelykheidshof begin.

Maandag het Naren Sewnarain, die landdros, homself van die saak onttrek nadat Jones, wat die MRK verteenwoordig, ’n aansoek daarvoor gebring het. Jones het gereken die kommissie, as ’n klaer in die saak, wou gehad het Sewnarain moet verwyder word omdat hy hegte bande met Catzavelos se prokureur, Lawley Shein, het.

Sewnarain het in die hof bevestig dat hy tien jaar gelede met Shein gewerk het en het homself toe aan die saak onttrek.

Hy het gesê dat ’n nuwe landdros die saak sal oorneem.

Die saak is tot 29 Augustus uitgestel wanneer Catzavelos na verwagting ook in die landdroshof in Randburg op aanklag van crimen injuria verskyn nadat die EFF in Gauteng ’n strafregtelike saak teen hom ingedien het.

Hy word ook in Griekeland deur aanklagte in die gesig gestaar wat verband hou met die “bedoeling om in die openbaar – via die internet – optrede aan te hits, uit te lok of aan te moedig wat moontlik tot diskriminasie, haat of geweld kan lei teen ’n sekere mens of groep, of mense wat geïdentifiseer word deur ras, kleur, geloof, herkoms, nasionale of etniese oorsprong, of wat die lewe van sulke mense bedreig,” het sy prokureur aan die media gesê.

Catzavelos het in die sop beland nadat ’n video, waarin hy die k-woord gebruik het, op die internet versprei is. Hy het die video op ’n Griekse strand gemaak terwyl hy daar met vakansie was. Hy het rassistiese aanmerkings gemaak oor die afwesigheid van swart mense op die strand.

“Nie een k****r in sig nie. F*kk*n hemel op aarde . . . Jy kan dit nie oortref nie,” het hy in die video gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.