Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Kaapse ‘afpersers’ wil hof vra vir ontslag
Nafiz Modack, in die swart leerbaadjie, en Jacques Cronjé, in die blou hemp, met ’n vorige hofverskyning buite die streekhof in Kaapstad.Foto: Jaco Marais

Vier mans wat daarvan aangekla word dat hulle ’n Kaapstadse restaurant afgepers het ten einde veiligheidsdienste aan die restaurant te verskaf, gaan die hof om ontslag vra weens die “swak saak van die staat”.

Die staat het Donderdag sy saak in die streekhof in Kaapstad teen Nafiz Modack, Colin Booysen, Ashley Fields en Jacques Cronjé afgehandel. Dit handel oor die beweerde afpersing van die Grand Africa Café & Beach in die V&A Waterfront.

Adv. Dirk Uys, Modack se regsverteenwoordiger,

het aan die hof gesê hy gaan ingevolge art. 174 van die Strafproseswet vra dat Modack vrygespreek word.

Bruce Hendricks, wat namens Booysen en Fields optree, het buite die hof gesê die beskuldigdes gaan aansoek doen om vrygespreek te word sonder dat hulle getuig “weens die staat se swak saak”.

Dié aansoek sal op 25 Oktober aangehoor word, sê Hendricks.

Lt.kol. Charl Kinnear, hoof van die Seepunt-polisie se speurtak, is die oggend verder deur Uys kruisondervra. Hy het verduidelik dat hy aanvanklik nie ’n dossier op die polisie se rekenaarstelsel wou registreer nie omdat die inhoud en getuies deur ander polisielede opgesoek kan word.

Om dié rede het Kinnear, die hoofondersoekbeampte, eers ’n dossier geopen nadat ’n beëdigde verklaring in November 2017 ontvang is, wat hy geglo het op afpersing dui. ’n Amptelike dossier is later geregistreer.

Kinnear het die vorige dag erken hy het nie die oorspronklike verklaring van Stuart Bailey, voormalige bedryfsbestuurder van die Harbour House-groep (waaronder die Grand val) nie. ’n Afskrif van sy verklaring is deur kapt. Althea Jeftha van die bende-eenheid aan hom oorhandig.

Hy het ook nie dié verklaring byderhand gehad toe hy

Radley Dijkers, handelsnaambestuurder van Grand Africa Café & Beach, se verklaring afgeneem het nie, het die hof gehoor ná vrae oor waarom Dijkers se weergawe van Bailey s’n verskil.

Uys wou weet of die verklarings van twee personeellede van Grand na spesifieke dreigemente verwys het en of hul weergawes mekaar staaf. Kinnaer het gesê hy is nie bewus van fisieke dreigemente nie, maar dat die klaers bevrees was.

Lt.kol. Charl Kinnear Foto: Peter Abrahams, SON

Dit het Uys laat vra hoe afpersing bewys kan word as daar nie dreigemente was nie.

Kinnear het ook erken dat hy Dijkers tydens die borgtogaansoek gebel het tydens ’n hofverdaging terwyl hy nog in die getuiebank was.

Uys het gevra of hy nie geweet het daar is ’n verbod daarop om met getuies te praat nie. Kinnear het geantwoord hy was verkeerdelik onder die indruk dat dié reël nie ten opsigte van ’n borgtogaansoek geld nie.

Landdros Byron Pedro het daarop gewys dat getuies gewoonlik te alle tye gewaarsku word om nie met enige ander getuies te praat as hulle in die getuiebank is nie, ongeag of dit in ’n borgtogaansoek of tydens die verhoor is.

Daarna het Kinnear getuig hy het Dijkers se verklaring geneem nadat hy ’n oproep ontvang het dat Dijkers in die raadsaal van die polisiekantore in die middestad is en vir hom wag.

Kinnear weet egter nie wie dié vergadering gereël het of wie Dijkers na die kantore gebring het nie. Hy kan ook nie onthou wie hom gebel het nie.

Hendricks wou by Kinnear weet waarom ’n gesoute ondersoekbeampte soos hy nie bykomende verklarings van ander betrokke getuies kon bekom nie, asook verklarings van die eienaars van die restaurant wat glo ’n verlies van R90 000 weens afpersing gely het.

Kinnear het benadruk selfs toe hy die Grand besoek het, wou die mense nie met die polisie praat of betrokke raak nie. Hy kan hulle nie dwing om verklarings af te lê nie. Ander belanghebbendes kon hy nie in die hande kry nie of hulle was in die buiteland.

Hendricks het gesê dit kom vreemd voor. Hy wou by Kinnear weet of dit nie buitengewoon is dat slagoffers in so ’n saak nie belangstelling toon nie. Kinnear het toegegee dit is.

Bruce Hendricks, prokureur van Colin Booysen en Ashley Fields. Foto: Maygene de Wee

Later het Kinnaer bevestig dat hy drie keer met die sakeman Mark Lifman gepraat het ten tyde van die saak, waaronder twee keer by sy huis in Fresnaye en ’n derde keer elders in Seepunt.

Dié ontmoetings hou grootliks verband met ’n saak waarin Cronjé ’n persoon van belang en Lifman die klaer was. Dié saak is egter later geskrap.

Uys het Woensdag aangevoer dat Lifman ook ’n belang in die veiligheidsbedryf het en dat daar onmin tussen hom en die beskuldigdes is.

Kinnear het gesê hy het nie geweet dat Dijkers ’n maand nadat hy sy beëdigde verklaring afgelê het, met Lifman vergader het en ook nie dat Dijkers teenwoordig was toe Jeftha vir Lifman besoek het nie.

Hy het erken hy het eers in die media hiervan gehoor.

Hendricks wou weet of Jeftha Kinnear in kennis gestel het van die baadjies wat die Grand aan polisielede, haarself inkluis, gegee het, soos wat Dijkers in die hof getuig het.

Kinnear het gesê hy het in die koerante daarvan gelees, maar Jeftha het ontken dat dit gebeur het.

Hendricks het aangevoer dat Booysen deur senior polisielede, waaronder Kinnear, geteiken word in die belang van sy mededingers en dat dit op “Kaap-kaping” neerkom.

Pedro het opgemerk dat daar herhaaldelik in die verhoor na Jeftha verwys is. Sy is ’n sleutelfiguur omdat sy die aanvanklike verklaring ontvang het waarop die aantygings van afpersing gegrond is. Hy wou by Kinnear weet of dit nie betekenisvol is dat sy nie genoem het dat sy met Lifman vergader het terwyl Dijkers ook daar was nie.

Kinnear het hierop toegegee dit is “nie wat ek sou gedoen het nie”.

Meer oor:  Colin Booysen  |  Jacques Cronjé  |  Afpersing  |  Nafiz Modack  |  Ashley Fields
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.