Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Kaapse metro-man in hof oor ‘verkragting’ van 13-jarige

Die verkragtingsaak teen ’n 54-jarige senior bestuurder van die Kaapstad-metroraad is Maandag in die landdroshof in Mitchells Plain tot 29 Junie vir ’n formele borgtogaansoek uitgestel.

Joernaliste wat die saak bygewoon het, het Maandag op ’n WhatsApp-groep gesê dat die prokureurs wat die man verteenwoordig, aanvanklik probeer verhoed het dat hulle die saak bywoon.

Hulle is later egter in die hof toegelaat nadat die staatsaanklaer gesê het dat joernaliste wel in die hof mag wees. Die saak was egter toe al reeds afgehandel en uitgestel.

Venetia Orgill betoog Maandag buite die landdroshof in Mitchells Plain waar ‘n senior bestuurder van die Kaapstad-metroraad op ’n aanklag van verkragting verskyn het. Foto: Judith Kennedy/Facebook

Die man, ’n voormalige Umkhonto we Sizwe-bevelvoerder op die Kaapse Vlakte, het die 13-jarige klaer glo oor ’n tydperk van drie jaar herhaaldelik by haar ouerhuis en ander plekke verkrag.

Sy naam mag nie genoem word totdat hy gepleit het nie.

Die man was in Desember 1989 betrokke by die voorval waarin ’n kleefmyn by die Mitchells Plain-polisiekantoor geplaas is.

Hy is die naweek in hegtenis geneem en is by die Strandfontein-polisiekantoor tot Maandag aangehou.

’n Gemeenskapsorganisasie in Mitchells Plain waarby die man betrokke was – Unchain the Plain – het hulle Maandag van die man gedistansieer. Hy is ’n uitvoerende lid van die organisasie.

Mark Skriker van Unchain the Plain sê in ’n verklaring dat hulle die naweek inligting ontvang het dat een van hul lede in hegtenis geneem is vir die verkragting van ’n minderjarige.

Inwoners Maandag buite die landdroshof in Mitchells Plain waar ’n 54-jarige man op ’n aanklag van verkragting verskyn het. Foto: Judith Kennedy/Facebook

“Ons beskik in hierdie stadium nie oor enige inligting met betrekking tot die saak nie en hoop dat die hofprosesse ’n lig hierop sal werp. As ’n organisasie distansieer ons ons van die voorval.”

Skriker sê hulle het Sondagaand ’n noodvergadering gehou en het besluit om die man onmiddellik te skors totdat die hofsaak afgehandel is.

“Die gereg moet sy gang gaan.”

Hy sê dat die organisasie enige vorm van geweld veral teenoor vroue en kinders veroordeel.

Die metro oorweeg onmiddellike skorsing onderhewig aan die borgtogaansoek. As die borgtogaansoek toegestaan word, moet die metro die werknemer onmiddellik in kennis stel dat hulle begin het met ‘n proses om hom te skors. Terwyl hy in polisieaanhouding is, hoef hy nie geskors te word nie. “Aanhouding is outomaties sonder salaris en voordele.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.