Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Kaapstad appelleer teen hofuitspraak oor uitsettings

Die Kaapse metroraad gaan appelleer teen ’n hofuitspraak verlede week wat die stad keer om mense wat in tente op ’n stuk grond in Observatory bly, te verwyder.

Regter Selwyn Hockey van die hooggeregshof in Kaapstad het verlede week in sy uitspraak die stad belet om inwoners van die Singabalapha- informele nedersetting uit te sit.

Die groep van sowat 60 mense wat op ’n perseel in Observatory bly, sê die metroraad tree nie net onwettig op ingevolge die koronavirus-inperkingsregulasies nie, maar lede van die metropolisie intimideer en teister van die mense en verwyder hul besittings van die perseel.

Die groep woon in tente by Hoofweg 414 en beset ook reeds sedert September 2019 die gebou op die perseel.

Die metro het probeer om hulle wettig deur hofbevele te verwyder, maar dit is teengestaan.

Die tente waarin sowat 60 lede van die Singabalapha-groep in Observatory bly. Foto: Facebook/Singabalapha

Hoewel die hof bevind het dat die stad geregtig is om sy plaaslike verordenings toe te pas, is die implikasie van die uitspraak dat wetstoepassers nie verder kan oortree teen mense wat stadsverordeninge op dié terrein oortree nie, sê JP Smith, die stad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit.

Hy sê dit is ’n “onhoudbare situasie” en gevolglik is die stad genoodsaak om aansoek te doen om verlof tot appèl.

“Die uitspraak hou gevolge vir alle inwoners in. Die stad se wetstoepassers en ander veiligheidsafdelings het toegewyd gewerk om verordenings toe te pas om chaos te verhoed. As die uitspraak staan, sal die stad se pogings om die verordening toe te pas, in die hof uitgedaag word, wat weer wetteloosheid tot gevolg sal hê,” sê Smith.

Hy meen die applikante het nie voldoen aan die wetlike vereistes om ’n interdik te kry nie.

Die Singabalapha-groep bestempel op sy beurt die stad se appèl-aansoek as ’n vermorsing van geld.

“Die stad het vanjaar reeds ’n groot aantal groot hofsake verloor oor die onwettige uitsetting van inwoners. Vir die stad om appèl aan te teken teen die uitspraak, is nie net ’n vermorsing van belastingbetalers se geld nie, maar dui ook op die minagting wat die stad vir ons regte as inwoners het,” sê die groep in ’n verklaring.

Dit laat die vraag ontstaan in wie se belange die stad dan wel optree, sê die groep.

“Dit is beslis nie in die beste belang van die mense nie. Om te sê die uitspraak ‘sal tot wetteloosheid lei’ toon die minagting wat die stad vir mense het.”

Die groep sê die uitspraak het bewys dat dit in werklikheid die stad is wat “wetteloos” optree.

“Soos sake nou staan, woon ons reeds ’n jaar hier sonder enige dienste, hoewel die stad grondwetlik verplig is om water, sanitasie en elektrisiteit aan ons moet verskaf.”

Die stad het vanjaar reeds ’n groot aantal groot hofsake verloor oor die onwettige uitsetting van inwoners. Vir die stad om appèl aan te teken teen die uitspraak, is nie net ’n vermorsing van belastingbetalers se geld nie, maar dui ook op die minagting wat die stad vir ons regte as inwoners het.

Meer oor:  Kaapstad-Metro  |  Observatory  |  Uitsettings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.