Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Kaders: SA het g’n reg op dié besluite, sê ANC

Die publiek het geen reg om te weet wat aangegaan het in die ANC se kaderontplooiingskomitee tussen 2013 en 2018 nie, sê die ANC in hofstukke wat Vrydag ingedien is.

Die hoogwatermerk van staatskaping is in dié jare bereik toe pres. Cyril Ramaphosa in sy hoedanigheid as adjunkpresident van die land en voorsitter van die ANC se kaderontplooiingskomitee was.

Die DA het in Mei ’n aansoek gebring in die Johannesburgse hooggeregshof om die ANC te dwing om alle dokumente, beraadslaging en besluite van die kaderontplooiingskomitee vir daardie jare te oorhandig. Dit het gekom ná getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek deur onder andere Barbara Hogan, oudminister van staatsdiens en administrasie, wat in 2018 getuig het “sekere komitees in die ANC sien dit as hul reg om ’n minister aan te sê wie aangestel moet word en wie nie”.

Sy het die praktyk van kaderontplooiing beskryf as ’n “misbruik van mag wat die uitvoerende gesag omseil” en gesê die ANC se interne dinamika het “nepotisme en patronaatskap bevorder”. Hierdie patronaatskap sou “baie skadelike gevolge vir ons staatsinstellings (inhou) en by uitstek vir ons ekonomie”, aldus Hogan.

'Die komitee beveel slegs mense aan.’

Maar die ANC skop vas. Luidens die party se beantwoordende beëdigde verklaring, wat Vrydag ingedien is deur Jessie Duarte, waarnemende sekretaris-generaal, het die komitee nooit staatsamptenare aangestel nie, maar slegs “aanbevelings” gemaak.

Die doel van die aanbevelings was boonop nooit om “lojale” kaders te vind nie, maar bloot om seker te maak dat diegene wat topposte kry, behoorlik uitvoering gee aan regeringsbeleid.

Daarom is dit nie in die openbare belang om die verrigtinge van die komitee openbaar te maak nie.

Duarte beweer ook die DA het die verkeerde prosedure gevolg om die komitee se notules en dokumente in die hande te kry, en dat die party eerder moes gewag het totdat die Zondo-kommissie sy verslag oor staatskaping bekend maak. Die DA-aansoek is gebring kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) deur dr. Leon Schreiber, DA-LP en die party se woordvoerder oor staatsdiens en administrasie.

Volgens Duarte het Schreiber nooit in dié aansoek gesê wie se regte hy met die aansoek probeer beskerm nie. Schreiber se verweer was dat hy juis die komitee se dokumente en besluite wil verkry om vas te stel of die ANC die komitee gebruik om art. 197(3) van die Grondwet te omseil wat bepaal dat “geen werknemer van die staatsdiens voorgetrek of begunstig mag word omdat daardie persoon ’n sekere politieke party of kwessie ondersteun nie”.

Duarte sê dis bog. Al wat die komitee volgens haar doen, is om “geskikte kandidate van sy interne poel van gekwalifiseerde professionele werkers te identifiseer en aan te beveel”.

“Die relevante owerheid oorweeg daarna aansoeke wat uit die publiek ingedien is . . . in ooreenstemming met die Staatsdienswet of die Grondwet,” lui Duarte se verklaring. “Die ontplooiingskomitee probeer nie om mense te ontplooi wat noodwendig lojaal aan die ANC is nie, maar (fokus) liewer op mense wat verstaan hoe nodig dit is om die gemeenskap te transformeer.”

Volgens Duarte moet Schreiber eerder die rekords probeer verkry van die relevante komitees wat eindelik kandidate in die openbare sektor aanstel.

In Schreiber se hofaansoek het hy onder meer verwys na die getuienis voor die Zondo-kommissie van die minister van minerale en energie, Gwede Mantashe. Dié het getuig die ANC het ’n ontplooiingsbeleid ontwikkel “om te verseker dat die staatsdiens nie rebels teenoor die regerende party is nie”.

Ook Ramaphosa het onbedoeld erken hoe magtig die komitee is toe hy getuig het hy is “dadelik” na die komitee om verskoning te vra nadat hy die komitee met die maak van ’n aanstelling “omseil” het. Duarte sê egter niks dui sover daarop dat die komitee ’n “ondeursigtige” proses volg wat tot “buitensporige beheer oor en skadelike gevolge vir” die staatsdiens lei nie.

“Mnr. Schreiber se verhoogde emosies moet liewers gespaar word tot nadat die kommissie sy bevindinge oor kaderontplooiing bekend maak.”

Meer oor:  Jesse Duarte  |  Barbara Hogan  |  Leon Schreiber  |  Kaderontplooiing  |  Da  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.