Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Kamma-advokaat’ vra borgtog nadat hy verhoor ontduik

’n “Advokaat” van Bloemfontein wat sedert 2016 sy bedrogverhoor ontduik het op aanklagte dat hy glo sy regskwalifikasies vervals het, het ’n siekbrief wat kan verduidelik hoekom hy “verdwyn” het.

Ntate Manoel Mabesa (48) het Dinsdag voor streeklanddros Collin Nekosie in die streekshof in Bloemfontein in sy formele aansoek om borgtog getuig dat hy nooit “spoorloos verdwyn” het nie.

Ntate Manoel Mabesa (links) gesels Dinsdag met sy prokureur, Frank Botha. Foto: Alzane Narrain

Die staat beweer Mabesa is in 2012 met ’n vermoedelik vervalste graadsertifikaat in die hooggeregshof in Bloemfontein as advokaat toegelaat en het verskeie mense in die landdroshof in Bloemfontein verteenwoordig.

Mabesa sê hy kon sedert Oktober 2016 nie in sy verhoor op aanklagte van bedrog, vervalsing en regsverydeling teregstaan nie omdat hy die dag wat sy verhoor sou begin, siek geword het.

’n Lasbrief vir sy inhegtenisneming is toe uitgereik. Daarna kon hy nie die landdros of die ondersoekbeampte in sy verhoor opspoor om sy nuwe verhoordatum vas te stel nie.

Hy sê hy was telkens by die hof en by die ondersoekbeampte se kantore en kon niemand in die hande kry nie.

Hy sê hy was heeltyd nog by sy huis in Botshabelo.

Kapt. Thabang Mokoena van die Valke, wat Mabesa se vrylating op borgtog teenstaan, sê hy en sy span het die afgelope byna drie jaar hul bes gedoen om hom aan te keer. Sy familie en vriende het ook nie hul samewerking gegee nie.

“Al hoe ons hom kon opspoor, is toe hy vanjaar vir ’n ander misdryf in Thaba Nchu in hegtenis geneem is.”

Mokoena sê toe Mabesa in Mei in die landdroshof in Bloemfontein op ’n aanklag van motordiefstal op borgtog van R1 000 vrygelaat is, het hy hom buite die hof weer in hegtenis geneem.

Mokoena sê as borgtog toegestaan word gaan Mabesa weer vlug. “Dit is asof hy gehoop het die saak sou verdwyn of dat van die staatsgetuies op die ou einde sou doodgaan.”

Adv. Allan Simpson kla aan.

Frank Botha tree vir Mabesa op.

Die borgtogaansoek duur voort.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.