Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Kasteel’ van Kaapse bedrieër nou gelikwideer
Gary van der Merwe Foto: Edrea du Toit

Gary van der Merwe, omstrede Kaapse sakeman en veroordeelde bedrieër, se jongste poging om “sy kasteel tot die bittereinde te beskerm”, het misluk.

Nou mag likwidateurs, wat reeds twee jaar gelede deur die hof aangestel is om Zonnekus Mansions se likwidasieproses af te handel, voortgaan met hul werk.

Dít spruit uit die jongste uitspraak in Van der Merwe se vierde aansoek om Zonnekus Mansions onder sakeredding te plaas.

Sy vorige drie pogings het misluk.

Zonnekus Mansions is in 1999 geregistreer en besit vyf eiendomme wat insluit ’n eiendom in Dennegeur in Somerset-Wes, drie eiendomme in Milnerton, en die Zonnekus-huis op ’n landgoed van 8 000 m².

Volgens Van der Merwe woon hy al 20 jaar in die huis by die mond van die Milnertonstrandmeer, wat tussen R30 miljoen en R50 miljoen werd is.

Die huis is deur sir Herbert Baker ontwerp en in 1926 vir sir De Villiers Graaff gebou. Hy huur soms die huis uit vir partytjies of troues teen R96 604 per dag.

Regter Patric Gamble het vandeesweek in sy uitspraak Van der Merwe se aansoek van die hand gewys. Hy het verder bevind Van der Merwe, sy dogter, Candice (23), en Van der Merwe se ma, Fern Cameron (75), wat as trustees van die Eagle Trust gelys is, nie verder enige pogings mag aanwend om Zonnekus Mansions onder sakeredding te plaas nie.

Hulle moet ook alle koste dra rakende die aansoek aan die respondente, wat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en Standard Bank insluit.

Regter Owen Rogers het op 19 Maart 2014 ’n bewaringsbevel teen Zonnekus Mansions bekragtig. Die SAID het hierna ’n eis van R42 miljoen teen Zonnekus Mansions by die hof ingedien.

Al die roerende bates soos die eiendomme asook twee helikopters, ’n Mitsubishi-vliegtuig en sowat 12 voertuie is aan die bevel gekoppel en mag nie verkoop word sonder die toestemming van die hof nie.

’n Waardelose verbeterde sakeplan is in plek gestel vir ’n maatskappy wat nie besigheid doen nie.

Op 20 Junie 2014 het Standard Bank ’n aansoek by die hof ingedien sodat Zonnekus Mansions gelikwideer kan word. Dié aansoek spruit uit ’n verband van R5,3 miljoen wat nie deur Zonnekus Mansions betaal is sedert Oktober 2013 nie. Op 28 Oktober 2014 is die bevel bekragtig.

Op 2 Desember 2014 is die likwidateurs bevestig en vier eise ter waarde van R13 443 174,08 is ingedien.

Toe die likwidateurs in Januarie 2015 met Van der Merwe wou ontmoet, het daar ’n kwessie rondom die eienaarskap van die helikopters opgeduik.

Die hof het bevind ’n ondersoek moet ingestel word, maar voordat die ondersoek kon begin, het Van der Merwe die eerste van vier sakereddingsaansoeke by die hof ingedien.

Luidens Gamble se uitspraak is die jongste en vierde aansoek prosedureel gebrekkig en het drie “ongemaklike onwaarhede” gehad, naamlik Van der Merwe kon nie die aansoek ingedien het nie omdat hy nie ’n aandeelhouer van Zonnekus Mansions is nie, hy is nie ’n krediteur nie en hy werk nie vir die maatskappy nie.

Hy het gesê daar was genoeg tyd vóór Zonnekus Mansions finaal gelikwideer is om vir sakeredding aansoek te doen.

Wat ook ter sprake gekom het, was die betaling van byna R145 miljoen in Candice van der Merwe se bankrekening, waarop haar pa tekenregte gehad het.

Dit is glo deur ’n ryk sakeman gedoen toe sy hom in die Seychelle ontmoet het toe sy modelwerk daar gedoen het.

Candice het vir haar ’n Audi R8 en ’n Range Rover Evoque gekoop (op meer as R2,5 miljoen gewaardeer) en ’n huis in Fresnay, gewaardeer vir R110 miljoen.

Die Finansiële Intelligensiediens het dit opgemerk en die owerhede het ’n sterk vermoede gehad dat haar pa iets daamee te doen het. Die hof is genader vir ’n bewaringsbevel van haar bates.

Candice het toe R12 miljoen betaal om die saak met die SAID te skik.

Gamble het in sy uitspraak gesê dit is duidelik dat Van der Merwe die regstelsel misbruik het om die likwidasieproses te stol.

“Die aansoek is nie begin om die besigheid onder sakeredding te plaas nie, maar om die likwidateurs te frustreer en sodoende nie hul werk kan doen nie,” het Gamble gesê.

“ ’n Waardelose verbeterde sakeplan is in plek gestel vir ’n maatskappy wat nie besigheid doen nie. ’n Mens sidder om te dink watter verdere skelmstreke die Van der Merwes in die mou voer,” het Gamble gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.