Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Katlego en eks sien mekaar in die hof oor hofbevel

Die Expresso-aanbieder Katlego Maboe moet hierdie week in die landdroshof in Kaapstad verskyn op aanklagte dat hy ’n hofbevel om sy eks, Monique Muller, nie te teister nie, verbreek het.

Katlego Maboe en Monique Muller in 2017. Foto: Peter Abrahams

Die twee se huismoles het die skindertonge die afgelope week besig gehou nadat ’n selfoon­video van ’n stryery, waarin Maboe erken dat hy vir Muller verneuk het, die wêreld vol gestuur is.

Nou blyk dit dat jeukerigheid die minste van Maboe se probleme is. Nie net het die versekeringsreus Outsurance die gereelde advertensies waarin hy optree, onttrek nie, maar hy word ook daarvan beskuldig dat hy die voorwaardes van ’n beskermingsbevel verbreek het.

Eric Ntabazalila, Wes-Kaapse woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het aan Rapport bevestig dat Maboe, asook Muller, wat op 3 September ’n hofbevel teen Maboe verkry het, Dinsdag in die hof moet wees.

Kapt. Frederick van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig dat so ’n bevel op 3 September deur die Seepuntse polisie op Maboe bedien is

Muller het verlede week aan Rapport gesê sy het geen idee hoe die beeldmateriaal van haar konfrontasie met Maboe op so­siale media beland het nie.

Sy het in ’n onderhoud met die GoBinge-kanaal op YouTube die sluier effens gelig oor waar sake tussen haar en Maboe begin versuur het. Sy sê onder meer Maboe het in die eerste ses maande van die verhouding “versmoor” gevoel oor hy by haar gewoon het. Sy sê dinge het toe buite beheer geraak en beweer sy is “fisiek aangeval”, waarna sy ’n beskermingsbevel moes verkry.

Maboe het ná die verskyning van die video ’n verklaring uitgereik. Hy skryf onder meer: “Ek het my lewensmaat verneuk in ’n tyd wat baie belangrik vir ons was, iets wat ek tot vandag toe berou.” Hy ontken dat hy haar ooit mishandel het.

“Ek het altyd en sal altyd opstaan teen die mishandeling van vroue en kinders – inteendeel, die mishandeling van enigeen.”

Intussen vertel inwoners van Mosselbaai Muller se pa, Chris, is glo omgekrap oor sy dogter se “manewales” op sosiale media – juis oor hy en Maboe glo goed oor die weg gekom het. Pa en dogter sien mekaar glo ook min.

Inwoners vertel die (toe nog) glanspaartjie was kort voor die nasionale inperking op Mosselbaai. Die bejaardes van die ouetehuis waar Chris werk was glo gaande oor Maboe se besoek.

“Alhoewel ons almal baie teleurgesteld is dat hy gekul het, staan baie mense in Mosselbaai agter Katlego,” sê die persoon.

Muller se pa het Vrydag aan Rapport gesê hy “wil nie oor die saak praat nie”.

Teen gister het meer as 64 900 mense ’n aanlyn petisie geteken om Maboe terug te kry op Outsurance se advertensies.

Maboe lê intussen laag. Hy het Vrydag ’n medianavraag na sy agent, Fabrizia Degli Esposti, verwys. Sy sê haar kliënt sal praat “sodra hy gereed is”.

Vrydag was die straat buite Maboe se Seepunt-woonstel doodstil. Hy het Donderdag 34 geword.

Meer oor:  Monique Muller  |  Katlego Maboe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.