Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het dit Dinsdag verwelkom dat die hooggeregshof in Makhanda die appèl van ’n prominente kerkleier teen sy tronkstraf van 12 jaar weens korrupsie van die hand gewys het.
Volgens Kaizer Kganyago, die SOE se woordvoerder, is biskop Samuel Mzukisi Banzana tronkstraf opgelê vir korrupsie van meer as R3 miljoen by die Mzingisi-ontwikkelingstrust, waarvan hy die bestuurder was.
’n Tender vir die ontwikkeling van laekostebehuising in Port Elizabeth is in 2007 deur die Oos-Kaapse departement van menslike nedersettings aan die trust toegeken.
Cara-Lee Dorfling het vroeër berig dat die hof bevind het dat Banzana omkoopgeld gekry het om kontrakte vir die bou van laekostehuise onregmatig toe te ken.
“Die ondersoek het getoon dat Banzana die geld gebruik het om luukse voertuie te koop en ’n huisverband van R1,4 miljoen te betaal. Daar was ’n korrupte verhouding tussen Banzana, sy verskaffers en regeringsamptenare.”
Banzana is in 2017 tot 12 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy in die hooggeregshof in Port Elizabeth aan korrupsie skuldig bevind is.