Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Kinnear-moord: Kilian 'nie as private speurder gekwalifiseer'

Zane Kilian (39), wat vir die moord op lt.kol. Charl Kinnear (52) aangekla word, is blykbaar nie ’n volwaardig gekwalifiseerde private speurder nie.

Hy is volgens die Reguleringsowerheid vir die Private Veiligheidsbedryf (Psira) nie by hulle as ’n private speurder geregistreer nie.

Adv. Eckhardt Rosemann, Kilian se regsverteenwoordiger, het Vrydag in die landdroshof in Bishop Lavis ’n Psira-sertifikaat by die hof ingedien as bewys dat Kilian by Psira geregistreer is.

Oupa Mamabolo, woordvoerder van Psira, het egter Dinsdag gesê volgens hul rekords is Kilian nie by hulle geregistreer nie.

Rosemann het Vrydag aangevoer Kilian is ’n geregistreerde private speurder en dat hy geen wet oortree het nie, sou hy Kinnear se selfoonseine nagespoor het, soos die staat beweer.

Kilian staan benewens die aanklag van moord tereg op ’n aanklagte van sameswering om moord te pleeg en die onwettige onderskepping van kommunikasie.

Die staat beweer Kilian het die bepalings van art. 49, saam gelees met art. 51 (b), van die Wet op die Regulering van Onderskepping van Kommunikasie en die Verskaffing van Kommunikasieverwante Inligting (Wet 70 van 2002) oortree.

Zane Kilian is volgens Prisa nie ’n private speurder nie. Hulle sê ook dat hy nie by dié organisasie as ’n veiligheidsdiensverskaffer geregistreer is nie. Foto: Facebook

Hy is glo die man wat Kinnear se selfoon nagespoor het. Volgens die staat het hy in Maart 2020 daarmee begin en het gestop kort nadat Kinnear vermoor is.

Wes-Kaapse speurders het hom twee weke gelede by sy huis in Springs in hegtenis geneem.

Mamabolo het by navraag gesê Kilian het voorheen by ’n onderneming gewerk wat sedertdien gederegistreer is.

“Volgens ons rekords is Zane Kilian nie by Psira as ’n veiligheidsdiensverskaffer geregistreer nie.”

Hy het gesê enige veiligheidsdiensverskaffer moet by hulle registreer.

“Wat die kwalifikasie en/of opleiding betref, moes die veiligheidsdiensverskaffer ’n privaatondersoekkursus by ’n geakkrediteerde fasiliteit gedoen het.”

Mamabolo het ook gesê volgens hul kennis is dit vir ’n private speurder onwettig om ’n individu se selfoon na te spoor.

Hy sê volgens Psira kan sodanige magtiging slegs deur ’n hof gegee word, met inagneming van die Wet op die Verbod op Onderskepping en Meeluistering (1992).

Eric Bryer, Kilian se opdraggewende prokureur, het Dinsdag gesê hy het nie self die Psira-sertifikaat gesien nie en het navrae na Rosemann verwys. Rosemann het gesê Kilian is beslis ’n gekwalifiseerde en geregistreerde private speurder. Volgens hom het Kilian by Blue Pen Trading in Krugersdorp sy eksamen geskryf om as ’n private speurder te werk.

Blue Pen Trading se eienaar, Wayne Robinson, het egter Dinsdag gesê hulle doen beslis nie private speurwerk of opleiding vir private speurders nie.

“Ons doen skuldinvordering vir banke.”

Kinnear is op 18 September voor sy huis in Sidneyvale, Bishop Lavis, doodgeskiet.

zane kilian
Zane Kilian se regsverteenwoordiger het hierdie dokument as bewysstuk Vrydag in die hof ingedien. Foto: Verskaf

Luidens die sertifikaat wat Rosemann by die hof ingedien het, het Kilian op 2 Maart 2020 ’n veiligheidskursus suksesvol voltooi wat hom toelaat om op graad E, D en C as ’n veiligheidsdiensverskaffer te werk.

Maar volgens die SA Security Academy is ’n vlak E- en D-kwalifikasie vir veiligheidswagte wat patrolliewerk doen.

’n Vlak C-kwalifikasie is vir iemand wat toegangsbeheer doen. Om as ’n private speurder te kwalifiseer, moet ’n persoon al die kursusvlakke voltooi en sal jy net toegelaat word as jy ’n vlak A-kwalifikasie het.

Luidens inligting het Kilian drie dae nadat hy die kursus voltooi het Kinnear se selfoonseine begin naspoor.

Netwerk24 het vroeër berig dat Kilian Kinnear se selfoon vir maande nagespoor het voordat Kinnear koelbloedig doodgeskiet is.

Op die dag van sy moord is Kinnear se selfoon van omstreeks 08:00 tot kort ná 15:00 nagespoor.

Daily Maverick het daarna berig dat Kinnear se selfoon sedert Maart vanjaar tot met sy dood meer as 2 000 keer nagespoor is.

Netwerk24 het intussen vasgestel dat die nasporing van Kinnear se selfoon om 15:25 die dag van sy moord gestop het.

Kinnear is om 15:03:20 geskiet.

Kilian verskyn weer Woensdag in die landdroshof in Bishop Lavis, waar die staat dan sal sê by watter streekhof sy borgtogaansoek aangehoor sal word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.