Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Kilian se regsmense pak mekaar oor sertifikaat

Zane Kilian (39) se vorige regsverteenwoordiger adv. Eckhard Rosemann en sy opdraggewende prokureur, Eric Bryer, moet glo binnekort voor die Balieraad verskyn oor ’n dokument wat Rosemann in Oktober 2020 by die hof as bewysstuk in Kilian se saak ingehandig het.

Rosemann het op 9 Oktober 2020 ’n sertifikaat van die Reguleringsowerheid vir die Private Veiligheidsbedryf (Psira) as ’n bewysstuk by die hof ingedien.

Zane Kilian tydens een van sy vorige hofverskynings. Foto: Brenton Geach, Gallo Images

Hy het aangevoer dat Kilian ’n geregistreerde private speurder is en dat hy geen wet sou oortree het indien hy die vermoorde lt.kol. Charl Kinnear (52) se selfoonseine nagespoor het soos wat die staat beweer nie.

Psira het egter op 13 Oktober gesê dat Kilian nie as ’n private speurder by hom geregistreer is nie.

Bryer het op 14 Oktober by navraag gesê dat hy nie self die dokument gesien het nie. Hy het alle navrae na Rosemann verwys.

Rosemann het hom kort daarna aan die saak onttrek.

Adv. Johan van Aswegen het daarna op rekord vir Kilian gekom.

Hy het hom egter Vrydag tydens Kilian se verskyning in die streekhof in Bellville ook aan die saak onttrek.

Kilian se borgtogaansoek was veronderstel om voort te gaan.

Van Aswegen het aan die hof gesê daar het Woensdag inligting onder sy aandag gekom wat botsende belange tussen hom, die opdraggewende prokureur en hul kliënt (Kilian) teweeg bring.

Netwerk24 het Vrydag verneem dit gaan oor die Psira-sertifikaat en dat van Aswegen glo ongemaklik is oor die moontlikheid dat hy sowel Rosemann as Bryer sal moet ondervra sou dit van hom as Kilian se regsverteenwoordiger vereis word.

Na wat verneem word het Rosemann glo kort nadat hy hom aan die saak onttrek het in ’n verklaring gesê dat Kilian se vrou, Nicolene, die Psira-sertifikaat in ’n WhatsApp-boodskap aan hom gestuur het. Sy kon dit glo nie skandeer en e-pos nie omdat die sertifikaat gelamineer is.

Hy het glo in die verklaring gesê dat hy die sertifikaat in opdrag van Bryer as bewysstuk by die hof ingedien het.

Nicolene het Vrydag gesê dat Rosemann haar gekontak het en dat hy haar gevra het om dokumente van Kilian aan hom te stuur.

Dit is juis om dié rede dat die familie Rosemann se dienste beëindig het.

“Ek het na Zane se huis gegaan op soek na die nodige dokumente.” Sy het ’n handvol dokumente bymekaargeraap en dit vir Rosemann gestuur. Hieronder was ’n gelamineerde afskrif van ’n Psira-sertifikaat.

“Ek het pertinent vir hom gesê dit lyk soos ’n gelamineerde afskrif en dat dit nie die oorspronklike sertifikaat is nie. Ek het ook vir hom gesê dat hy dit sal moet verifieer aangesien dit nie die oorspronklike dokument is nie, dat ek nie weet waar dit vandaan kom of wie dit uitgereik het nie.”

Nicolene sê sy het eers later gehoor dat Rosemann uit sy eie die dokumente aangevra en dit as bewysstuk sonder dat hy dit geverifieer het by die hof ingedien het.

“Rosemann het dit ook sonder Zane se prokureur, Eric Bryer, se medewete gedoen,” het sy gesê.

Bryer was volgens haar baie ontsteld hieroor omdat hy as die opdraggewende prokureur omseil is en nie in die saak geken is nie. “Dit is juis om dié rede dat die familie Rosemann se dienste beëindig het,” het sy gesê.

Bryer het Vrydag weer eens gesê dat nie hy of Kilian enige kennis dra van die sertifikaat wat Rosemann destyds as bewysstuk by die hof ingedien het nie.

Hy het bevestig dat Rosemann op 25 Februarie ’n verklaring oor die Psira-sertifikaat en wie dit aan hom gestuur het, afgelê het.

Bryer het ook gesê dat hy die persoon is wat Rosemann gaan verkla het en dat hy gaan vra dat hy van blatante meineed aangekla word.

Eric Bryer (links) en adv. Eckhardt Rosemann (regs), Zane Kilian se vorige regsverteenwoordiger, gaan mekaar nou blykbaar pak oor ’n Psira-sertifikaat wat Rosemann in Oktober verlede jaar as bewysstuk by die hof ingedien het dat Kilian ’n private speurder is. Foto: Jaco Marais

Rosemann het Vrydag aanvanklik eers gesê hy dra geen kennis van enigiets nie. Hy het daarna gesê dat die sertifikaat aan hom “voorsien” is en dat hy ’n verklaring daaroor afgelê het.

Die span speurders wat Kinnear se moord ondersoek, het Vrydag onder begeleiding van gewapende lede van die polisie se nasionale taakspan by die hof opgedaag. Vier van die lede het vier van die speurders vergesel, selfs toe een van hulle na die toilet gegaan het.

Die lede wou egter nie sê hoekom hulle nou gewapende taakspanlede het wat oor hulle waak nie.

Een van die taakspanlede het ook ’n joernalis gevloek wat ’n foto van hulle by die hof wou neem.

Kilian se saak is daarna tot 4 Maart uitgestel sodat ’n nuwe regsverteenwoordiger op rekord kan kom.

Kilian is op 22 September 2020, vier dae nadat Kinnear voor sy huis in Gearingweg, Bishop Lavis, vermoor is, deur Wes-Kaapse speurders verbonde aan die teenbende-eenheid in hegtenis geneem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.