’n Skoolhoof van ’n private kerkskool in Mpumalanga se skuldigbevinding en vonnis weens die besit van kinderpornografie is deur die appèlhof ongeldig verklaar omdat die lasbrief vir deursoeking in die ondersoek na hom ongeldig was.
Neil Malherbe is in 2013 afgedank nadat hy in hegtenis geneem is weens die besit van kinderpornografie. Hy was hoof van die Penryn Preparatory School in Witrivier, het Times Live berig.
Die polisie het rolprente, ’n boek en foto’s in sy besit gevind nadat hulle ’n deursoekingslasbrief van ’n landdros bekom het.
Hy is op 17 Oktober 2017 skuldig bevind op drie van sewe aanklagte en is gevonnis tot drie maande tronkstraf wat vir drie jaar opgeskort is.

Neil Malherbe Foto: http://scbwi.blogspot.com/
Daar is ook opdrag gegee dat hy nie met kinders mag werk nie en sy naam is op die register van seksoortreders geplaas.
Malherbe (54) se naam is destyds gekoppel aan Projek Spade, ’n internasionale ondersoek na kinderpornografie waarmee in Kanada begin is.
Sy naam het opgeduik nadat hy ’n video bestel het van ’n webwerf wat deel van die ondersoek was. Daar is beslag gelê op sy rekenaar, waar die kinderpornografie ontdek is.
In haar uitspraak in Malherbe se appèlsaak het regter Thokozile Mbatha bevind die landdros wat die lasbrief vir deursoeking uitgereik het, het nie die voorgeskrewe eedsverklaring van die ondersoekbeampte gekry nie, en het ook nie die polisie se inligting bevraagteken op grond waarvan hul ondersoek berus het nie.
“ ’n Lasbrief vir ondersoekwerk gegrond op ’n onbeëdigde verklaring is nie geldig nie. Die landdros in die saak moes bevind het die inligting waarop Malherbe skuldig bevind is, is onbehoorlik bekom en kon dus nie as getuienis teen hom gebruik word nie,” het Mbatha gesê.
Malherbe is die skrywer van die boek The Magyar Conspiracy waarmee hy in 2013 die Crystal Kite-prys vir die Afrika-streek ontvang het.
In die jaar lange Projek Spade-ondersoek is minstens 348 mense wêreldwyd in hegtenis geneem en minstens 386 kinders van seksuele uitbuiting gered, het die National Post in Kanada destyds berig.
Insp. Joanna Beaven-Desjardins, ’n ondersoekbeampte van die Kanadese polisie se eenheid vir seksmisdade, wat deel van die ondersoek was, het gesê die omvang van die inhegtenisnemings in meer as 50 lande was destyds die grootste tot nog toe.
Onderwysers, dokters, verpleegsters, priesters en mense met kinders in hul pleegsorg is betrek.
Die ondersoek het aanvanklik uitgebrei van Kanada na onder meer Australië, die VSA, Hongkong, Suid-Afrika, Spanje en Swede en later ook na Griekeland, Ierland, Nieu-Seeland en Noorweë.