Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Kinnear-moord: Verdagte vorder glo skuld in vir Modack
’n Kennisgewing op Facebook oor die dienste wat Zane Kilian gelewer het. Foto: Facebook

Zane Kilian (39) wat in verband met die moord op lt.kol. Charl Kinnear (52) in Kaapstad in hegtenis geneem is, het ook skuldinvordering vir Nafiz Modack (39), vermeende rolspeler in die Kaapse onderwêreld, gedoen.

Modack het gesê hy het van Kilian se dienste gebruik gemaak om skuldinvordering in Johannesburg namens hom vir van sy klante te doen.

In ’n Facebook-inskrywing gedateer 5 Maart skryf Modack op sy Facebook-blad dat alle skuldinvordering in Johannesburg “via Zane Kilian moet gaan. Bel hom.”

Kilian is Dinsdagaand vir ondervraging deur speurders verbonde aan die Wes-Kaapse eenheid teen georganiseerde misdaad en speurders verbonde aan die bende-eenheid en Valke by sy huis in Springs aan die Oos-Rand in hegtenis geneem.

Hy is na die Germiston-polisiekantoor geneem waar hy ondervra is, en is daarna na die Midrand-polisiekantoor geneem.

Kilian is na Kaapstad geneem waar hy Vrydag in die landdroshof in Bishop Lavis onder swaar polisiebewaking op aanklagte van moord, sameswering om moord te pleeg en die onwettige onderskepping van kommunikasie verskyn. Die groot geboude voormalige rugbystut was in ’n swart kappietop en ligblou denim geklee. Hy het die beskuldigdebank met sy hande voor hom vasgeboei, binnegekom. Die aanklagte teen hom kan nog verander.

Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag, het Kilian Kinnear se selfoon van 20 Maart tot die middag wat Kinnear vermoor is, nagespoor.

Die Facebook-inskrywing waarin Nafiz Modack sê dat alle skuldinvordering in Johannesburg deur Zain Kilian behartig moet word. Foto: Facebook

Kinnear se hoof by die bende-eenheid, genl.maj. André Lincoln, het met twee lyfwagte aan sy sy die eerste bank in die hofsaal ingeneem.

Eric Bryer, Kilian se prokureur, het Vrydag gesê sy kliënt is in Johannesburg vir ’n hele paar uur in sy teenwoordigheid deur die speurders ondervra. Hulle het daarna met hom na Kaapstad gereis.

Donderdag wou speurders van die Valke weer vir Kilian in Kaapstad ondervra, maar Bryer het opdrag gegee dat daar geen ondervraging sonder sy teenwoordigheid sal wees nie.

Kilian is ’n voormalige rugbyspeler wat vir die Valke, Griekwas, en die SA Barbarians as stut uitgedraf het.

Kinnear is op 18 September in sy motor voor sy huis in Gearingstraat, Sidneyvale in Bishop Lavis, deur ’n onbekende man doodgeskiet.

Hy is meer as vyf keer raakgeskiet en is op die toneel dood.

Netwerk24 het vroeër berig dat Kinnear se selfoon vir etlike maande voor sy dood nagespoor is. Die dag van die moord op hom is sy selfoon van omstreeks 08:00 tot 15:00, kort voor sy dood, nagespoor.

Die sluipmoordaanval op Kinnear hou moontlik verband met ’n ondersoek na die onwettige uitreiking van vuurwapenlisensies in Gautengse polisiekantore.

Minstens 21 mense is reeds in Junie 2020 in verband daarmee in hegtenis geneem. Hulle staan in die landdroshof in Kempton Park tereg op aanklagte van bedrog en regsverydeling, asook aanklagte in verband met die Wet op Vuurwapenbeheer.

Modack het Vrydag erken dat hy vir Kilian ken via die skuldinvordering wat hy vir hom in Johannesburg gedoen het.

Modack het gesê hy het die dag wat Kinnear vermoor is, vir Kilian gebel en gevra of hy selfoonseine naspoor. Kilian het ja geantwoord, het Modack gesê.

Hierdie foto van Zane Kilian is op Nafiz Modack se Facebook-blad. Foto: Facebook
Zane Kilian Foto: Facebook
Nafiz Modack het ook dié foto van Zane Kilian op sy Facebook-blad. Foto: Facebook

Hy het gesê dit is nie elke skuldinvorderaar wat selfoonseine naspoor nie.

Modack het ook gesê dat hy nie by Kinnear se moord betrokke is nie. Hy het gesê dat Kinnear nou al vier hofsake teen hom gevoer het. In elk van die hofsake het hy (Modack) as die wenner uit die stryd getree.

Hy het gesê hy het geen motief nie en miskien moet die polisie binne hul eie geledere kyk wie vir Kinnear vermoor het.

“As ek hom wou dood hê, kon ek dit elke keer tydens my verhoor gedoen het. Ek het elke dag geweet waar hy is,” het Modack gesê. Ook dat hy ’n skadevergoedingsaak teen Kinnear het en dat hy (Kinnear) die meeste gehad het om te verloor.

Kilian se saak is tot 5 Oktober vir verdere ondersoek uitgestel. Hy bly tot dan in aanhouding by die Bellville-polisiekantoor.

• Kilian se ma, Heila Kilian (63), wat bekend gestaan het as Lovey, is in April 2018 op ’n plaas sowat 2 km buite Stilbaai vermoor.

Vyf gewapende mans het haar en haar suster, Brenda Thomas, aangeval terwyl hulle saam met twee vriende vleisgebraai het.

Die aanvallers was geklee in oranje oorpakke en het klapmusse gedra. Kilian se ma is op die toneel dood en die twee mans is vasgebind. Brenda, by wie sy gekuier het, kon vlug en hulp ontbied.

Die aanvallers het die huis geplunder en in een van die voertuie gevlug. Hulle is later in hegtenis geneem.

Die saak teen die vermeende moordenaars duur nog voort.

Nafiz Modack saam met van die mense wat vir hom werk. Foto: Facebook

Meer oor:  Skuldinvordering  |  Zane Kilian  |  Nafiz Modack  |  Charl Kinnear
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.