Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Klag van seksuele aanranding teen gewese sportafrigter

’n Vrou het ná byna 50 jaar besluit om haar stilte te verbreek deur ’n klag van seksuele aanranding in te dien teen ’n voormalige sportman wat tans tronkstraf uitdien.

Die klag is deur ’n vrou van Gauteng teen ’n Oos-Kaapse gewese sportafrigter ingedien.

Volgens die vrou was die voorval in die vroeë 1970’s in Welkom toe sy in gr. 7 of gr. 8 was.

In dié stadium is alles nog net bewerings. ’n Ondersoek moet volg, waarna die staat moet besluit oor vervolging, en dan eers volg ’n hofsaak.

Sy het besluit om nou na vore te kom terwyl samesprekings oor die man se parool gevoer word.

“Ek het lank gewroeg oor die besluit. Ek dink nie hy is op parool geregtig nie,” het sy gesê.

Die man, wat nie geïdentifiseer mag word tot hy op die seksuele aanklagte in die hof gepleit het nie, is reeds die afgelope drie jaar in die tronk.

Die vrou wou nie oor die besonderhede van die voorval uitwei nie, maar sê sy verwyt haarself tot vandag toe dat sy nie vroeër iets gesê het nie.

Die beskuldigde was vir ’n afrigtingsessie in Welkom. Die voorval het volgens haar tydens een van die lesse gebeur.

“Ek het ’n geweldige groot skuldgevoel – as ek toe dalk iets gesê het, sou ek dalk kon keer dat daar ander slagoffers is.

“Maar in daardie tyd was dit nie soos vandag nie. Die slagoffer is nie sommer geglo nie,” sê die vrou.

Die polisie het reeds ’n verklaring van die vrou gekry nadat sy die saak einde Januarie aangemeld het.

Brig. Motantsi Makhele, provinsiale polisiewoordvoerder in die Vrystaat, het gesê die Welkom-polisiekantoor se eenheid vir gesinsgeweld, kindermishandeling en seksmisdrywe (FCS) ondersoek ’n saak van seksuele aanranding.

“Die slagoffer beweer die verdagte was in 1970 haar (sport)afrigter. Hulle was omstreeks 11:00 besig met (afrigting) toe sy glo seksueel aangerand is,” het Makhele by navraag gesê.

Nog niemand is in hegtenis geneem nie.

Die prokureur Tania Koen, wat deur dié vrou genader is om as haar regsverteenwoordiger en woordvoerder op te tree, het gesê sy is onseker of die nuwe saak die man se paroolaansoek sal beïnvloed.

“In dié stadium is alles nog net bewerings. ’n Ondersoek moet volg, waarna die staat moet besluit oor vervolging, en dan eers volg ’n hofsaak.”

Koen sê hulle gaan wel die paroolraad inlig oor die nuwe klag, maar sy is onseker watter gewig die inligting by die raad sal dra.

Die voormalige sportman se naam word weerhou omdat hy nog nie op die klag in die hof verskyn het of gepleit het nie.

Meer oor:  Gauteng  |  Sportafrigter  |  Seksuele Aanranding  |  Welkom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.