Dit lyk asof Julius Malema, die EFF-leier, en een van sy adjudante, Mbuyiseni Ndlozi, binnekort heelwat tyd in die howe gaan deurbring indien ’n lang lys van klaers hul sin kry.
Talle strafregtelike klagte asook klagte by die Menseregtekommissie (MRK) is sedert die gebeure in Senekal teen die leierskap van die EFF ingedien.
Die VF Plus en aktiviste het klagte by die MRK ingedien nadat die EFF die lied “Kill the boer, kill the farmer”, in Senekal gesing het.
Die MRK het vandeesweek bevestig dat hy die VF Plus se klagte saam met nog ’n klaer se klagte gevoeg het en dat die saak ondersoek word.
Thabang Kheswa, die MRK se provinsiale bestuurder, sê die kommissie ondersoek ook ’n aantal ander klagtes wat ontvang is.

Ernst Roets en Daniël Eloff van AfriForum op ’n mediakonferensie in verband met die klagte van haatspraak wat AfriForum teen Julius Malema en die EFF ingedien het. Foto: Afriforum
Schalk van der Merwe, ’n stigterslid van die Nasionale Konserwatiewe Party (NKP), sê dié party het strafregtelike klagte teen Malema aanhangig gemaak en sal voortgaan om hom te laat vervolg.
Van der Merwe, ’n oud-aanklaer, sê hy vergader binnekort weer met die Valke, en van die kwessies wat bespreek sal word, is die beweerde haatspraak by Senekal, die beweerde afpersing en afdreiging van Clicks asook klagte ingevolge die terrorisme-verwante wetgewing.
Die NKP het ook voorheen klagte teen Malema in Bloemfontein en Newcastle by die polisie ingedien. Dié verhore is nog nie afgehandel nie.
AfriForum het Donderdag bekend gemaak dat hy klagte by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien het teen die EFF asook sy leier, Malema, en Ndlozi, die EFF-woordvoerder. Die klagte word by die hooggeregshof wat as die gelykheidshof sit, geliasseer.
Die kern van die klagte spruit daaruit dat “Kill the Boer, kill the farmer” buite die hof in Senekal gesing is terwyl die moordsaak van Brendin Horner aangehoor is, sê Ernst Roets, hoof van AfriForum se afdeling vir beleid en aksie.
’n Klag is ook teen Ndlozi ingedien wat dieselfde dag op Senekal mense aangehits het om boere se plase af te brand, sê Roets.

Julius Malema waar hy op 16 Oktober in die landdroshof in Senekal gesit het toe die vermeende moordenaars van Brendin Horner aansoek om borgtog gedoen het. Van links is Ayanda Dlodlo, die minister van staatsveiligheid, Bheki Cele, die minister van polisie, en Malema. Foto: Alet van der Walt
Die klagte steun op die 2011-skikking tussen TLU SA en AfriForum, die ANC en Malema toe dit ’n bevel van die appèlhof gemaak is dat Malema verbied word om sulke liedere te sing.
Malema is ook deur die hof verplig om sy ondersteuners aan te moedig om nié meer die lied te sing nie.
“Met die EFF en Malema se aanhoudende haatspraak en Malema se weiering om sy ondersteuners te stop, is dit AfriForum se rol as burgerregteorganisasie, wat veral fokus op die beskerming van minderheidsregte, om die nodige stappe te doen om te verseker dat dit stopgesit word,” sê Roets.
“Plaasmoorde is ’n ernstige en voortdurende werklikheid. Die EFF se uitlokkende aanhitsing van plaasmoorde buite die hof waar beskuldigdes van ’n plaasmoord vervolg word, is skokkend en onaanvaarbaar.”