Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Klein Moyhdien ‘het deur hel gegaan voor sy dood’

Die man wat van die ontvoering en moord van Tazne van Wyk (8) aangekla word, se tweejarige seun het ten tyde van sy dood op 15 Junie 2001 veelvuldige beserings, sommige ouer as 24 uur en ander jonger as 24 uur, gehad.

Moyhdien Pietersen is om 18:45 in die Delft-daghospitaal op die Kaapse Vlakte as dood verklaar.

Moyhdine Pangarker

Sy pa, Moyhdine Pangarker (55), het hom die aand daar by die hospitaal gaan aflaai. Dit was kort nadat hy sy seun vir ’n laaste keer aangerand het deur hom eers met sy plathand oor sy sitvlak te slaan en toe met ’n lyfband oor sy boude en laerug.

Die rede: Klein Moyhdien het gehuil en gekla dat hy honger is.

Hy het vir verpleegpersoneel by die daghospitaal gesê sy kind het uit sy hande geval.

Pangarker het Moyhdien se ma, Rosetta Pietersen, eers die aand van 18 Junie 2001, drie dae nadat hul kind dood is, ingelig dat ’n hond Moyhdien gebyt het. Daarna het hy gesê dat Moyhdien van ’n fiets geval en dat ’n speek hom onder sy ken gesteek het. Nog ’n verweer was dat hulle die aand voor die seun se dood deur skollies gejaag is en dat Moyhdien van sy skouers afgeval het.

Toe hy in hegtenis geneem is, het hy beweer Elsabe van Houten het sy kind doodgemaak omdat sy nie van hom (Moyhdien) gehou het nie.

Hy het in 2001 ’n verhouding met Van Houten gehad en het ook ’n kind by haar.

Tazne van Wyk (8) Foto: Verskaf

Die landdros het Pangarker in sy vonnisuitspraak in April 2008 in die landdroshof in Bellville as ’n manipuleerder met ’n Jekyll en Hyde-persoonlikheid beskryf.

Hy is op 28 Februarie 2008 skuldig bevind aan Moyhdien se ontvoering, kindermishandeling en strafbare manslag.

Hy is in April 2008 twee jaar tronkstraf opgelê vir die ontvoering, ses maande vir kindermishandeling en tien jaar vir strafbare manslag.

Die landdros het gesê Pangarker is ’n intelligente man wat taamlik sagte teikens – die ma’s van sy kinders – gekies het en hy het geweet hulle sou nie veel weerstand en teenstand bied nie.

Hy het gesê die seun het van die dag dat hy op 20 April 2001 ontvoer is, tot die dag dat hy op 15 Junie 2001 dood is, deur hel gegaan.

“Jy het geweet dat jy nie vir Moyhdien sou terugbring nie. Jy het die kind met geweld uit sy ma se sorg verwyder. Dit was die begin van die einde vir die kind.”

Pangarker se suster, Soraya Benson, het onder meer getuig sy het haar broerskind net eenkeer gesien. Dit was by haar huis. Haar dogter het haar daardie dag die seertjies op die kind se kop gewys en sy het gesien dat hy nie lekker kon sit nie. Sy het getuig sy sitvlak was rooi en geswel, maar dit het nie soos “nappy rash” gelyk nie. Dit het vir haar gelyk of hy geslaan is. Moyhdien moes op ’n kussing sit.

Die landdros het die aanranding van die seun as wreedaardig beskryf en gesê die wrede pak slae voor sy dood is iets waaroor ’n mens net jou kop kan skud.

Oorsaak van dood

Die staatspatoloog dr. Sindisa Potelwa het in Pangarker se verhoor in die landdroshof in Bellville getuig dat Moydien weens kopbeserings dood is.

Die histologie-ondersoek van sy brein het onder meer gewys daar was ’n gebrek aan suurstof en daar was bloeding op sy brein.

Sy het verder getuig dat Moyhdien verskeie kopbeserings gehad het wat oor ’n tydperk toegedien is. Die seun het ook skedelbreuke gehad en daar was verskeie ander kneusplekke en laserasies waarvan sommige al genees was.

Sy ulna (die dun en lang beentjie in die voorarm aan die teenoorgestelde kant van die duim) was gebreek en die patroon van die kneusplekke en die ouderdom daarvan het volgens Potelwa gewys op ’n spesifieke patroon van aanranding.

Pietersen het getuig dat sy haar seun in die staatslykhuis by die Tygerberg-hospitaal opgespoor het. Die dag toe sy die lyk gaan uitken het, het sy ’n stukkende plek aan die linkerkant van sy kop gesien. Om sy oë en wange was dit blou. Hy het ook ’n stukkend plek aan die bokant van sy lip gehad.

Daar was verder blou kolle op sy boudjies en hy was baie maer.

Meer oor:  Moord  |  Ontvoering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.