Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Klerk in hof nadat Upt-vrou motor kwyt is

’n Polisieklerk verskyn vandag in die hof in Upington in verband met ’n voorval waarin ’n inwoner van Upington haar motor kwyt is weens die optrede van ’n slinkse dief.

Volgens Nicoleen Burger (63) het sy Donderdagoggend haar motor na die Powerglaze-motorwassery geneem.

Sy laat haar motor gereeld hier was aangesien dit oorkant die straat van haar onderneming geleë is.

Sy sê die eienaar van die motorwassery, Piet Husselman, het later die oggend ’n oproep van ’n vrou ontvang wat gevra het of die motor, ’n wit Polo Vivo, gereed is. “Sy het die motor se registrasienommer, CKY 362 NC, aan oom Piet deurgegee en hy het bevestig dat die motor gereed is,” sê Burger.

“Iets omtrent die oproep het hom egter ongemaklik gemaak. Die vrou het aan hom gesê sy staan met ’n klomp pakkies by Checkers in die middedorp en sy wou hê hulle moes vir haar die motor bring,” vertel Burger.

Die vrou het glo nie haar naam verstrek nie, maar het daarop aangedring dat die motor na Checkers gebring word.

Husselman was huiwerig, want die vrou se stem het nie vir hom bekend geklink nie. Die vrou het glo aangehou en gesê: “Wil jy my dan nie help nie? Wil jy my nie vandag ken nie?”

Husselman het glo toe gevra of sy Burger is waarop sy “ja” geantwoord het.

Die drywer het die voertuig daarna na Checkers geneem waar ’n netjies geklede vrou na hom toe gekom het, hom op sy naam aangespreek het en gesê het: “Gee die sleutel vir my.”

Die drywer het toe na die wassery teruggestap.

Daar het hy vir Husselman vertel dat hy nie die vrou as Burger herken het nie en dat dit vir hom vreemd was.

Husselman is na Burger toe. “Toe hy by die kantoor inkom, kon ek sien oom Piet lyk nie lekker nie,” sê Burger.

“Ek het gesê dat dit nie ek was (wat gebel het) nie en dit is toe dat hy sê: ‘Dan is jou motor nou gesteel.’ ”

Die polisie is dadelik ontbied en die nuus het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei.

Inwoners is gevra om op die uitkyk te wees vir die motor.

Kort ná die voorval is nog ’n boodskap op sosiale media versprei wat gesê het die motor is tussen Keimoes en Kakamas gevind, maar volgens kapt. Jacques September, polisiewoordvoerder, was dit ’n gerug wat moontlik versprei is om die polisie op ’n dwaalspoor te lei.

’n Burgerlike polisieklerk (35) is Vrydagoggend ná deeglike ondersoekwerk in Louisvaleweg in verband met die voorval in hegtenis geneem. Die man verskyn vandag in die hof in Upington op ’n klag van motordiefstal.

Daar is in dié stadium geen verdere inligting oor die vrou wat die oproep gemaak het beskikbaar nie. Die motor is ook nog soek.

Enigiemand met inligting kan konst. Colin Moses by die Upington-motordiefstaleenheid by 054-337-3400 bel.

Meer oor:  Hof  |  Aangekeer  |  Diefstal  |  Upington
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.