Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Klitoris-Deen vra glo verlamde om vrou te vermoor
Motlatsi Moqeti. Foto: Alzane Narrain

’n Sameswering om ’n moord te pleeg wat in die hofselle van die landdroshof in Bloemfontein begin het en in die Grootvlei-tronk voortgesit is, is in die hooggeregshof in Bloemfontein onthul.

Motlatsi Moqeti (32), ’n verlamde burger van Lesotho, het getuig hoe die sameswering tussen hom en die Deense wapenhandelaar Peter Frederiksen (65) tot die huurmoord teen R120 000 op Frederiksen se vrou, Tshidi Molise (28), in Oktober 2015 in Lesotho gelei het.

Frederiksen was “angstig” dat Molise so gou moontlik vermoor moet word omdat sy ’n getuie teen hom was in die saak waarvoor hy in hegtenis geneem is. Haar dood sou die saak teen hom laat “weggaan”.

Nege klitorisse is in September 2015 in Frederiksen se vrieskas in sy huis in Bloemfontein gekry. Hy ontken voor regter Johann Daffue skuld op 58 aanklagte, waaronder een van sameswering om sy vrou te vermoor.

Moqeti het getuig hy was verhoorafwagtend in die tronk op ’n aanklag van roof toe hy Frederiksen in die hofselle ontmoet het. Frederiksen het gesê hy het ’n werk vir hom.

Die volgende dag het Frederiksen hom in die hospitaalafdeling in die tronk besoek en gesê sy vrou is ’n getuie teen hom en hy moet iemand kry om haar dood te maak.

Kort daarna is Moqeti op borgtog vrygelaat. Hy het sy vriend, Paul, saam met wie hy al rooftogte gepleeg het, in Lesotho gebel en van Frederiksen se versoek vertel.

Peter Frederiksen gaan deur sy notas in die hooggeregshof in Bloemfontein. Foto: Alzane Narrain

Frederiksen het deur een van sy werknemers in Lesotho, ene Meschack, R10 000 aan Paul beskikbaar gestel. Hy het ook die vuurwapens beskikbaar gestel. Moqeti het R2 000 gekry.

Moqeti het getuig Paul het aan hom gesê hy en Meschack het reeds twee keer tevergeefs na die vrou gaan soek.

Frederiksen het aangehou bel sodat hy druk op die mense in Lesotho kon sit om die “werk” gedoen te kry.

Toe bel Paul hom een aand laat en sê dit wat van hulle verwag is, is gedoen.

Moqeti het gevra of dit behoorlik gedoen is. Paul het gesê sy is vier keer geskiet. Sy is dood.

Toe hy Frederiksen daarna bel, het hy die indruk gekry Frederiksen het reeds geweet. Meschack sou die mense in Lesotho betaal.

Die volgende dag het Paul gebel en gesê hy het die geld gekry. Paul het Moqeti se deel (R30 000) by Ladybrand aan hom oorhandig.

Moqeti dien 12 jaar tronkstraf uit vir roof en poging tot moord.

Adv. Amanda Bester kla aan. Marius Bruwer tree in opdrag van Steenkamp en Jansen-prokureurs vir Frederiksen op.

Meer oor:  Peter Frederiksen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.