Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Kolonel vertel in hof van konfrontasie met Malema

“Ek gaan nie instap nie, ek gaan inry. Geen wit man gaan my keer nie.”

Dit was glo wat Julius Malema, EFF-leier, aan lt. kol. Johannes Jacobus Venter gesê het voordat hy en Mbuyiseni Ndlozi, EFF-LP, Venter na bewering in op 14 April 2018 by Winnie Madikizela-Mandela se begrafnis aangerand het.

Venter het Dinsdag sy weergawe van die gebeure in die landdroshof in Randburg vertel, terwyl die gesing van ’n skare EFF-ondersteuners wat buite gewag het tot in die hofsaal gehoor kon word.

Julius Malema, EFF-leier, Woensdagoggend in die landdroshof in Randburg. Foto: Melinda Stuurman

Venter het getuig hy het as lid van die presidensiële beskermingseenheid by die begraafplaas se hek diens gedoen op die dag van die begrafnis.

Venter sê die konvooi – die lykswa, die Mandela-familie en die president – het omstreeks 15:30 by die begraafplaas aangekom.

’n Voertuig met Malema op die agtersitplek het ná die konvooi by die begraafplaas opgedaag. Venter sê die voertuig het nie, soos die ander voertuie, ’n permit in sy venster gehad nie.

Venter het die voertuig gestop en die bestuurder het gesê Malema is op die agtersitplek. Hy het Malema gegroet en verduidelik dat hy nie mag inry nie, maar moet instap.

“Ek gaan nie instap nie, ek gaan inry,” het Malema volgens Venter gesê.

Venter sê hy het toestemming hiervoor by die operasionale sentrum versoek, maar terwyl hy op ’n antwoord gewag het, is daar twee keer aan hom gestamp.

Hy het aanvanklik nie gesien wie hom gestamp het nie. Hy het toe vir Malema uit die motor sien klim.

“Geen wit man gaan my keer nie,” het Malema glo geskree.

Een van die EFF se vragmotors wat gebruik word tydens verkiesingsveldtogte voor die landdroshof. Foto: Melinda Stuurman
Die polisie het vroegoggend gereed gestaan vir die groep EFF-ondersteuners wat by die hof verwag is. Foto: Melinda Stuurman

Venter het getuig Malema en Ndlozi, wat naby Malema gestaan het, het hom gestamp.

Venter sê hy het nie terugbaklei nie en Malema en Ndlozi het hom weer gestamp.

“Die keer het hulle so hard gestamp dat ek my balans verloor en teen die huisie waar die begraafplaas se wagte gewoonlik sit, geval het.”

’n Generaal het Venter te hulp gesnel en gesê, “los”.

Ndlozi en Malema het in hul motor geklim en die bestuurder het by die begraafplaas ingery.

Die polisie was in groot getalle buite die hofgebou ontplooi voordat ’n bus met EFF-lede aangekom het. Mobiele toilette is opgerig in afwagting van nog honderde ondersteuners.

Malema en Ndlozi word van die aanranding van Venter aangekla. Hulle ontken die klagte teen hulle.

Die voorval is op kringtelevisiekameras vasgevang.

Venter het ’n klagte by die polisie ingedien, maar dit is nie opgevolg totdat AfriForum ’n hofaansoek gebring het om die nasionale vervolgingsgesag (NVG) te dwing om Malema en Ndlozi te vervolg nie.

Die saak duur voort met Malema en Ndlozi se regsverteenwoordigers wat Venter kruisondervra.

Meer oor:  Julius Malema  |  Mbuyiseni Ndlozi  |  Eff  |  Aanranding  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.