Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Kommersiële belang’ SAB se rede vir aansoek – minister
Die vyfde drankverbod geld tans. Foto: Jaco Marais

“Kommersiële belang” is die rede vir die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) se dringende aansoek om die tydelike drankverbod op te hef.

Die saak het geen meriete nie en moet met koste van die hand gewys word, voer dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, aan in hofstukke wat Woensdag by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien is.

Die SAB behoort aan die internasionale bierreus Anheuser-Busch InBev (AB InBev) en het verlede week ’n dringende aansoek teen die jongste drankverbod by die hof ingedien.

Dit is die vyfde keer dat die regering ’n algehele verbod op drankverkope in Suid-Afrika plaas sedert die Covid-19-pandemie in Maart verlede jaar die land getref het.

In die vorige vier het die drankbedryf die regering in die howe gepak oor die wettigheid van die verbod en die regulasies en oor hoeveel geld die bedryf verloor omdat hy nie eens alkohol mag versprei of vervoer nie. Elke keer nadat die verbod egter gelig is, is dit nie met veel wyer verder gevoer of afgehandel nie. Van die verhore is eers in Augustus. 

Die wynbedryfsliggaam Vinpro het weens die jongste verbod sy eie dringende aansoek ingedien wat Woensdag aangehoor moes word, maar uitgestel is vir bevestiging van 'n ander datum. Wanda Augustyn, woordvoerder van Vinpro, sê hulle wag nog vir 'n nuwe datum van die hof.

Luidens die hofstukke is Vinpro en die SAB gevra om hul sake saam te voeg, maar weens fundamentele verskille in hul aansoeke is dit van die hand gewys.

Pres. Cyril Ramaphosa het op 27 Junie die jongste verbod op die verkoop en verspreiding van alkohol ingestel. Dit duur tot 11 Julie.

Nkosazana Dlamini-Zuma address a media briefing on
Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake.

Volgens Dlamini-Zuma se beëdigde verklaring het die SAB sy aansoek sonder enige feitelike bewyse oor die stand van die pandemie ingedien. Die SAB wil hê die hof moet die regering se besluit, wat gegrond is op insette van ’n verskeidenheid kenners en wetenskaplikes, tersyde stel.

“Die regering neem die besluite oor die regulasies nie ligtelik nie,” sê Dlamini-Zuma.

Sy het ook verwys na die appèlhofuitspraak in die saak waarin die Liberty Fighters Network (LFN) haar oor die inperkingregulasies voor die hof in Gauteng gedaag het.

“Hierdie pandemie hou ’n onvoorspelbare risiko vir almal se lewens in en daarom is dit ’n bedreiging vir menseregte.”

Die appèlhof het in Mei bevind dat die uitspraak van die hooggeregshof – wat die nasionale staat van inperking se regulasies as ongeldig en ongrondwetlik verklaar het – buite die trefwydte van die reg was.

Dlamini-Zuma sê indien die SAB se aansoek suksesvol is, sal die gesondheidsektor oorweldig word, daar sal onnodige lewensverliese wees en gesondheidswerkers sal nie genoeg beskermende drag hê om hulle teen die virus te beskerm nie.

Sy sê hierdie regulasies is nodig in ’n pandemie waarin die infeksies toeneem.

Die regering is bewus van die uitwerking daarvan op die ekonomie en die werkverliese, maar dit is nodig om druk op die gesondheidsektor te verlig om onnodige sterftes te voorkom.

In dié stadium, en gegrond op internasionale en plaaslike kenners se getuienis en wetenskaplike bevindinge, is die regulasies nodig en daar sal sektore wees wat harder as ander getref word.

“Dit is onvermydelik, veral nou met die Delta-variant wat baie vinniger versprei,” sê Dlamini-Zuma.

Sy het ook daarop gewys dat dit die regering se plig is om die handves van menseregte te gehoorsaam, te respekteer en te beskerm.

“Hierdie pandemie hou ’n onvoorspelbare risiko vir almal se lewens in en daarom is dit ’n bedreiging vir menseregte.”

Sy voer aan dat die SAB se saak nie op ’n dringende grondslag aangehoor moet word nie, en dat dit óf van die rol geskrap óf later in Augustus aangehoor word.

Die partye moet teen Donderdag hul betooghoofde by die hof indien, waarna die aansoek Vrydag aangehoor sal word.

Meer oor:  Kaapstad  |  Drankverbod  |  Nkosazana Dlamini-Zuma  |  Sab  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.