Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Kompromie’ bereik oor dossier in saak teen 3 van SAID

Die partye in die saak teen drie oudbestuurders van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), wat na bewering vertroulike gesprekke afgeluister het, het op die nippertjie ’n “kompromie” bereik oor die inhoud van die saakdossier.

Adv. Sello Maema, aanklaer, het Woensdag in die landdroshof in Pretoria gesê hulle het intussen “Deel C” van die dossier teen Ivan Pillay (64), Andries Janse van Rensburg (53) en Johann van Loggerenberg (49) aan hul regspan beskikbaar gestel.

“Deel B” sal voor die volgende hofdatum “besigtig” kan word.

Van links is Evelyn Groenink (Ivan Pillay se vrou), Pillay, Andries Janse van Rensburg en Johann van Loggerenberg Woensdagoggend in die Pretoriase landdroshof.Foto: Deaan Vivier

Dit kom nadat die saak in Augustus uitgestel is vir ’n aansoek van die verdediging om volle insae in die dossier te kry ter voorbereiding van die verhoor wat in die hooggeregshof aangehoor sal word.

Die beskuldigdes het op 13 Julie ’n versoek vir nadere besonderhede gebring. Die staat het toe aangevoer dat die trio se regspan net op die openbare deel van die dossier geregtig is en spesiale redes moet aanvoer oor hoekom die vertroulike deel openbaar gemaak moet word.

Die staat het beweer die beskuldigdes wil slegs die vertroulike dele van die dossier sien om insae in die binnewerkings van die polisie te kry en nié om hul onskuld te bewys nie.

Ivan Pillay Woensdagoggend in die Pretoriase landdroshof. Hy, Andries Janse van Rensburg en Johann van Loggerenberg word daarvan aangekla dat hulle die Wet op die Reëling van die Onderskepping van Kommunikasies en die Verstrekking van Kommunikasieverwante Inligting (Rica) en die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (Poca) oortree het. Foto: Deaan Vivier

Die saak is toe tot Woensdag uitgestel vir die staat om ’n teenaansoek te bring.

Adv. Laurence Hodes, vir die beskuldigdes, het Woensdag egter in die hof gesê nadat ’n kompromie met die staat bereik is, trek hulle hul aansoek om toegang tot die hele dossier te kry terug.

“Deel C van die dossier is laat Maandagmiddag (10 September) aan ons voorsien. Ons het Dinsdag (11 September) om 16:48 ’n antwoordende verklaring van die staat ontvang en sal Deel B intussen mag besigtig,” het Hodes verduidelik.

Die saak is nou uitgestel tot 8 November om seker te maak dat alle voorverhoorverrigtinge afgehandel is voordat die saak na die hooggeregshof oorgeplaas word.

Pillay, Janse van Rensburg en Van Loggerenberg verskyn op aanklagte van oortredings van die Wet op die Reëling van Onderskepping van Kommunikasies en Verstrekking van Kommunikasieverwante Inligting (Rica) en die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (Poca), alternatiewelik korrupsie. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle die gewese Skerpioene en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) van 2006 tot 2007 afgeluister het. Luidens die akte van beskuldiging het Pillay, destydse hoofbestuurder van die SAID se hoërisiko-eenheid, Janse van Rensburg en Van Loggerenberg onregmatig meeluisterapparate in die kantore van dié twee regeringsinstansies laat installeer en gesprekke afgeluister.

Janse van Rensburg en Van Loggerenberg het as spesialisbeamptes onder Pillay gewerk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.