Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Koning van kasteel’ loop weer bloutjie in hof
Die fasade van die Zonnekus-herehuis in die Woodbridge Island-veiligheidskompleks in Milnerton, Maandag, met ’n seil oor die swembad en iemand wat buite werskaf. Foto: Jaco Marais

’n Omstrede sakeman van Kaapstad wat hand en tand veg om sy luukse herehuis te behou wat deur sir Herbert Baker ontwerp en deur sir De Villiers Graaff gebou is, het nog ’n bloutjie in die hooggeregshof geloop.

Gary van der Merwe, ’n veroordeelde bedrieër wat al vir jare in die nuus is oor sy pogings om ’n likwidasie af te weer, het in ’n aansoek voor die hof aangevoer die likwidateurs van sy Zonnekus Mansion-maatskappy is skelm en geldgierig.

Van der Merwe is al in die hof beskryf as ’n mens wat sy bes sal doen om sy “kasteel tot die bitter einde te beskerm”.

Regter Patric Gamble het in ’n bevel wat hy op 19 November in die hooggeregshof in Kaapstad gemaak het, bevind Van der Merwe se bewerings dat likwidateurs bedrog gepleeg en daarom deur die hof verwyder moet word, dra nie water nie.

Gary van der Merwe in 2014 buite die hooggeregshof in Kaapstad.Foto: Edrea du Toit

Van der Merwe het allerlei bewerings gemaak teen die likwidateurs Sivalutchmee Moodliar, George Nokhanda en Cloete Murray wat op 14 Desember 2014 deur die hof as likwidateurs van Zonnekus Mansion (Edms.) Bpk. aangestel is. Murray het op 5 Junie 2015 as likwidateur bedank weens belangekonflik.

Die grootste bate van Zonnekus Mansions is die herehuis in Woodbridge Island op ’n hoekerf wat grens aan die Milnerton-strand.

Van der Merwe het die hofgange voos geloop in sy pogings om die likwidasie om te keer en het in 2016 vier aansoeke van sakeredding voor die hooggeregshof gebring as ander opsies vir die likwidasieproses.

Hy het ook aansoeke om appèl ingedien toe sy aansoeke vir sakeredding misluk het.

Van der Merwe het ’n nuwe aanslag probeer deur verskeie kere aan te voer die likwidateurs minag die hof.

Gamble het in sy bevinding gesê die enigste ware persoon wat baat gevind het by dié strategie was Van der Merwe self, wat daarin kon slaag om steeds in sy herehuis aan te bly.

Die likwidateurs kon uiteindelik voortgaan met hul werk en het op 26 April 2018 ’n likwidasie- en distribusierekening by die hooggeregshof ingedien. Op 28 Maart vanjaar het regter Lee Bozalek ’n aansoek toegestaan dat diegene wat die Zonnekus-herehuis beset dit teen 31 Mei moet ontruim.

Van der Merwe het steeds nie opgegee nie en die uitsettingsbevel teengestaan in aansoeke tot so hoog as die konstitusionele hof, waar daar nog gewag word op ’n beslissing.

’n Lugfoto van die Zonnekus-herehuis in Woodbrigde Island wat in ’n advertensie gebruik is toe die eiendom in die mark was.Foto: Pam Golding Eiendomme

Gamble sê die algemene tema van Van der Merwe se aansprake in die hof is dat die likwidateurs, die bank en prokureurs gierig is, saamspan en misdadig optree.

“Dit is duidelik dat Van der Merwe persoonlik ingedoen voel deur die manier waarop sy maatskappy met die likwidasieproses hanteer is. Hy toon ’n totale onvermoë om te verstaan dat hoewel hy steeds die koning is wat in sy kasteel woon, hy nie meer in beheer is van Zonnekus Mansion (Edms.) Bpk. nie,” sê Gamble.

Die regter gaan voort en verwys na die “likwidasiebedryf”, soos wat Van der Merwe dit noem, en sê dit is so dat daar in insolvensiesake al te gereeld gesien word dat dieselfde korporasies aan dieselfde groot prokureursfirmas die opdrag gee, wat op hul beurt bepaalde advokate aanstel.

Gamble sê uiteindelik word likwidateurs deur die meester van die hof beheer en howe kan slegs die sake hanteer wat voor hulle gebring word. Hy sê die vlaag van aansoeke (deur Van der Merwe) moet natuurlik op verdienste oorweeg word, maar die hof sal nie toelaat dat partye statutêre prosesse in hul eie oorloë gebruik nie.

Gamble het bevind dat Van der Merwe regsprosesse misbruik in sy eie belang, dat hy dit versigtig beplan het om die likwidasieproses te vertraag en om soveel as moontlik meegaande skade aan die likwidateurs en krediteure te veroorsaak. Om dié rede is sy aansoek geweier dat die likwidateurs vervang word én Van der Merwe moet die regskoste dra.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.