Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Konstabel tronk toe oor hy wapen aan bendelid gee

’n Voormalige polisiekonstabel wat sy dienspistool vir ’n bendelid gegee het, is tot ses jaar tronkstraf gevonnis. Dié pistool is in ’n sluipmoord op ’n ander bendelid gebruik.

Walter Francis (32), wat voorheen aan die Humewood-polisiekantoor verbonde was, is Vrydagoggend in die hooggeregshof in Port Elizabeth gevonnis nadat hy in Julie aan strafbare manslag skuldig bevind is.

Walter Francis verlaat die beskuldigdebank in die hooggeregshof in Port Elizabeth nadat hy tot ses jaar tronkstraf gevonnis is. Foto: Lulama Zenzile

Regter Jannie Eksteen sê strafbare manslag is ’n ernstige misdryf en nie korrektiewe toesig, ’n opgeskorte vonnis óf ’n boete sal gepas wees nie.

Denton Rademeyer (23) is op 26 Oktober 2014 voor ’n huiswinkel in Bethelsdorp met Francis se dienspistool doodgeskiet.

Francis het die pistool met twee magasyne en ammunisie die vorige aand (25 Oktober 2014) by Shane Potberg se huis gelos en hom gevra om dit te bêre terwyl hy ’n vriend hospitaal toe neem.

Eksteen sê Francis was ten tyde van die voorval ’n opgeleide polisielid met ’n plig om die gemeenskap teen gewelddadige misdaad te beskerm. As ’n polisielid was hy deeglik bewus van die voortslepende bendegeweld in die omgewing, asook dat hy sy vuurwapen in die besit van ’n bendelid (Potberg) gelaat het.

Francis was agterosig en die feit dat hy die dag nadat hy sy wapen by Potberg gelos het, nie logiese stappe gedoen het om die wapen terug te kry nie, is afkeurenswaardig.

Walter Francis kyk op na sy pa, Phillip, terwyl hy na die aanhoudingselle geneem word. Foto: Lulama Zenzile

“Sy optrede het tot die sluipmoord van ’n jong man met potensiaal gelei, en die moord het ’n blywende impak op sy familie.”

Net voordat Francis na die hofselle geneem is, het hy sy beursie aan sy pa oorhandig. “Dié is nog nie die einde nie,” sê sy pa, Phillip.

Francis sal na verwagting op 24 Oktober ’n aansoek vir verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis bring.

Buite die hof het Denver Rademeyer, Denton se broer, namens die familie gesê hy is baie tevrede dat Francis tronkstraf gekry het, maar is ongelukkig met die vonnis.

“Ek en my broer het saam groot geword, saam gewerk, ons het alles saam gedoen.

“Ná ses jaar gaan Francis uitkom en aangaan met sy lewe, terwyl ons nog elke dag met die hartseer van my broer se dood moet voortleef.”

Meer oor:  Walter Francis  |  Wapen  |  Bendelid  |  Konstabel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.