’n Polisiekonstabel van Pretoria is in Limpopo in hegtenis geneem omdat hy glo nie vir petrol by ’n vulstasie betaal het nie.
Lt.kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê nog twee mans is saam met die konstabel in hegtenis geneem.
Die drie mans het Maandagaand voor 22:00 by die Muledani-vulstasie buite Thohoyandou in ’n BMW met ’n Gauteng-nommerplaat opgedaag.
Hulle het petrol ingegooi en wou met ’n bankkaart daarvoor betaal. Daar was glo fout met die bankkaart en die transaksie is nie goedgekeur nie.
Lt.genl. Nneke Ledwaba, polisiehoof in Limpopo, sê die konstabel se inhegtenisneming moet as waarskuwing dien 'dat Limpopo nie die speelplek vir misdadigers is nie'.
Ngoepe sê die drie mans het toe sonder om vir die petrol te betaal, weggejaag.
Die polisie het dieselfde motor Dinsdag in die Phiphidi-nedersetting gesien. Die motor is voorgekeer en die drie mans is in hegtenis geneem.
Ngoepe sê daar is ook op ’n blou lig van die polisie in die BMW beslag gelê.
“Die drie mans kan moontlik met verskeie misdrywe verbind word.”
Die konstabel en sy twee makkers sal eersdaags in die landdroshof in Thohoyandou op aanklagte van diefstal en die besit van gesteelde goedere verskyn.
Lt.genl. Nneke Ledwaba, polisiehoof in Limpopo, sê die konstabel se inhegtenisneming moet as waarskuwing dien “dat Limpopo nie die speelplek vir misdadigers is nie”.