Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Korrupte verkeersman kry borgtog

Een van twee verkeersbeamptes van die Nelson Mandelabaai-metro wat in Maart vanjaar op aanklagte van korrupsie gevonnis is, is Vrydag in die plaaslike handelshof op borgtog van R2 000 vrygelaat.

Mzukisi Mrara (49) se regsverteenwoordiger, adv. Terry Price SC, het ’n borgtogaansoek in dié hof ingedien hangende Mrara se aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding en vonnisoplegging.

Adv. Ulrike de Klerk, staatsaanklaer, het die aansoek teengestaan. Sy het verskeie voorbeelde in die hof opgenoem van soortgelyke gevalle in die verlede waar ’n applikant se borgtog nie toegestaan is nie en gesê dis duidelik dat die hof nog altyd aanklagte van korrupsie in ’n baie ernstige lig beskou het.

Price het haar argument as “irrelevant” bestempel en gesê al die sake waarna sy verwys het, hou verband met slegs ’n borgtogaansoek, nie ’n borgtogaansoek hangende ’n appèl soos in dié geval nie.

Mrara en sy voormalige kollega, Nosicelo Ncapai (43), is elk tot sewe jaar tronkstraf gevonnis, waarvan drie jaar vir vyf jaar opgeskort is.

Landdros Johannes Claassen het die borgtog toegestaan en gesê as die aansoek om appèl reeds goedgekeur is, beteken dit daar is regters wat glo dat die uitkoms van dié saak dalk anders kan wees.

“As die appèl slaag, sal daar in elk geval geen noodsaaklikheid wees vir gevangenisstraf nie. Daarom voel ek die applikant is geregtig op borgtog,” het Claassen gesê.

Price het gesê die appèl vind op 30 Januarie 2019 plaas.

Mrara en sy voormalige kollega, Nosicelo Ncapai (43), is elk tot sewe jaar tronkstraf gevonnis, waarvan drie jaar vir vyf jaar opgeskort is.

Ncapai, wat op twee aanklagte van korrupsie skuldig bevind is, sal net vier jaar agter tralies deurbring omdat sy haar vonnis samelopend sal uitdien.

Mrara, wat op drie aanklagte skuldig bevind is, is tot ses jaar gevonnis.

Die vonnisoplegging spruit uit verskeie voorvalle in 2015 waarin Ncapai en Mrara omkoopgeld van motoriste gevra het in ruil vir ’n kleiner of geen boete nie.

Ncapai sou ook Vrydag in die hof verskyn het vir ’n borgtogaansoek, maar is weens wankommunikasie by die departement van korrektiewe dienste nie na die hof gebring nie. Haar borgtogaansoek is tot 16 Julie uitgestel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.