Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Koue nag in sel ‘traumaties’ vir mev. Gigaba
Nomachule (Norma) Gigaba, Maandag in die landdroshof in Hatfield, Pretoria. Sy word van crimen injuria en kwaadwillige saakbeskadiging aangekla. Foto: Felix Dlangamandla

Die vrou van Malusi Gigaba, voormalige minister van finansies, is getraumatiseerd nadat sy ’n wintersaand in ’n koue sel deurgebring het, sê Victor Nkhwashu, Nomachule­ (Norma) Gigaba (40) se regsverteenwoordiger. 

Nkhwashu het Maandag buite die landdroshof in Hatfield, Pretoria, met die media gepraat ná sy kliënt se vlugtige hofverskyning. 

Adv. Dali Mpofu en adv. Tembeka Ngcukaitobi is ook deel van Norma se regspan.

Die hof het ingestem dat sy na haar huis kan terugkeer. 

Sy het die naweek, nadat sy op borgtog vrygelaat is, by ’n vriend deurgebring.

Norma word van crimen injuria en kwaadwillige saakbeskadiging aangekla. 

Luidens die klagstaat het sy ’n Mercedes-Benz G-Wagon beskadig. Luidens die klagstaat behoort die voertuig aan haar man. Voorheen is berig die motor behoort aan Peterson Siyaya­, ’n vriend van haar man. 

Volgens die klagstaat het sy ook ’n beledigende SMS, maar die klagstaat dui nie aan na wie sy dit gestuur het nie.

In die SMS beskuldig sy die ontvanger daarvan dat hy tenders verkoop, saam met ouer vroue slaap en Malusi gebruik as ’n weg om vroue te verneuk. 

Die Valke het Norma Vrydag in hegtenis geneem nadat haar man en Siyaya­ die klagte ingedien het. Sy het die aand in ’n polisiesel deurgebring voordat sy op borgtog van R5 000 vrygelaat is. Haar saak is na die streekhof in Pretoria oorgeplaas waar sy op 14 September moet verskyn. 

Norma, bekend om haar modesin, het ’n spierwit bloes by ’n gitswart snyerspak en swart hakskoene aangehad by haar hofverskyning. 

’n Ontwerpershorlosie, helderblou naels en ’n piepklein handsak van deurskynende plastiek met ’n swart voering het haar uitrusting afgerond. 

Nomachule Gigaba kom Maandag by die landdroshof in Hatfield, Pretoria aan. Foto: Felix Dlangamandla

Norma se regspan gaan hulle nou na die hooggeregshof wend om haar inhegtenisneming te betwis.

“Sy moes gedagvaar gewees het om in die hof te verskyn in plaas daarvan om haar op ’n Vrydagaand in hegtenis te neem met die wete dat die howe gesluit is. 

“Dit sal dus voor die hooggeregshof gebring word om die inhegtenisneming en lasbrief tersyde te stel,” sê Nkhwashu. 

Hy sê ’n eis sal ook ingestel word vir skadevergoeding weens haar “onnodige” inhegtenisneming en aanhouding. 

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, sê Norma is volgens polisiëringstandaarde in hegtenis geneem, maar sy het die reg om dit in die hof te betwis.

* Die Valke sal blykbaar Dinsdagoggend Norma se elektroniese toestelle aan haar terugbesorg waarop daar twee weke gelede beslag gelê is, berig News24. 

Die toestelle is blykbaar geneem as deel van die Valke se ondersoek na beweerde doodsdreigemente teen Malusi. 

Nkhwashu het in ’n brief aan lt.genl. Godfrey Lebeya, Valke-hoof, gesê die beslaglegging is onwettig omdat daar nie ’n lasbrief was nie. 

Nuwe inligting is bygewerk sedert die berig gepubliseer is.

Norma Gigaba en haar regsverteenwoordigers Maandag buite die landdroshof in Hatfield, Pretoria. Links van haar is adv. Tembeka Ngcukaitobi en regs haar prokureur, Victor Nkwashu. Foto: Felix Dlangamandla

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.