Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Krejcir verloor appèl teen tronkstraf in Praag

Die hooggeregshof in Praag in die Tsjeggiese Republiek het Woensdag die voortvlugtende misdadiger Radovan Krejcir se appèl teen ’n vonnis van 15 jaar tronkstraf vir misdrywe wat daar gepleeg is, in sy afwesigheid van die hand gewys.

Radio Praha berig Krejcir is dié vonnis in 2015 – ook in sy afwesigheid – opgelê op aanklagte van sameswering om ’n doeanebeampte te vermoor en om die bates van ’n staatsbeheerde oliemaatskappy deur middel van bedrog te stroop.

Radovan Krejcir destyds tydens sy verhoor in die hooggeregshof in Johannesburg waar hy later tot 35 jaar tronkstraf gevonnis is op aanklagte van onder meer dwelmhandel, poging tot moord en ontvoering.Foto: Felix Dlangamandla

Luidens EWN het dié tronkstraf van 15 jaar ook die vonnisse van ander aanklagte waaraan Krejcir vroeër skuldig bevind is, soos vervalsing en die onwettige besit van vuurwapens, ingesluit.

Karolina Babakova, Krejcir se Tsjeggiese prokureur, het aan die Czech News Agency gesê hoewel dié hofbeslissing nie weer op appèl geneem kan word nie, glo sy haar kliënt sal ’n petisie rig om die hofuitspraak op hersiening te neem.

Sy het volgehou dat die verhoor nooit sonder haar kliënt se teenwoordigheid moes voortgegaan het nie.

Die hof het egter dié argument verwerp en uitgewys dat Krejcir in 2005 landuit gevlug het.

Hy het eers saam met sy vrou en seun in die Seychelles geskuil voordat hy later na Suid-Afrika gekom het.

Die Tsjeggiese Republiek het op 11 Junie 2007 ’n aansoek om sy uitlewering gebring.

Intussen is Krejcir ook verlede jaar in die hooggeregshof in Johannesburg tot 35 jaar tronkstraf gevonnis op aanklagte van moord, dwelmhandel en ontvoering in Suid-Afrika.

Vandeesmaand het die Tsjegge se aansoek om uitlewering uiteindelik in die landdroshof in Kempton Park geslaag toe die hof bevind het Krejcir moet wel uitgelewer word.

Hy het 15 dae om daarteen te appelleer, berig EWN.

Meer oor:  Radovan Krejcir  |  Appèl  |  Tronkstraf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.