Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Kroegsanger vertel van vuishoue

Die landdroshof in Pretoria het Vrydag gehoor dat die drie vermeende aanranders van ’n polisiebeampte by nog ’n saak betrek word.

Francois Leibrandt (24) sy meisie, Cindy Esterhuizen (26) en ’n vriend, Jacques van der Merwe (32) het Vrydagoggend in die landdroshof in Pretoria-Noord verskyn op aanklagte van aanranding en aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Dit hou verband met ’n voorval Saterdagaand waarin konst. Leon Mentz van die Sinoville-polisiekantoor glo só erg aangerand is dat hy Vrydag ’n derde operasie moes ondergaan.

Quen Uys (54), ’n kroegsanger in sy hospitaalbed kort nadat hy op 2 Junie vanjaar aangerand is.

Die saak is tot volgende week uitgestel omdat “nuwe inligting aan die lig gekom het.”

Volgens die staatsaanklaer het die ondersoekbeampte in die saak haar vroeg Vrydagoggend laat weet dat die drie verbind kan word met nog ’n saak.

Toe Esterhuizen hoor dat hulle in aanhouding moet bly het sy in trane uitgebars en met mense, vermoedelik familielede, in die hof se galery probeer praat.

Intussen beweer ’n kroegsanger hy het ook onder Leibrandt se vuiste deurgeloop.

Quen Uys (54) van Eloffsdal het Vrydag spesiaal by die hofsitting opgedaag om seker te maak die staat weet van die saak wat hy aanhangig gemaak het. Hy beweer hy is op 2 Junie vanjaar by ’n kroeg in die weste van die stad erg aangerand.

Quen Uys (54) het verskeie beserings opgedoen tydens die aanranding. Sy kakebeen en neus is onder meer gebreek.

“Vriende van ons het ons gebel om te sê dat hulle in die nuus gesien het dat dieselfde mense wat Quen aangerand het in die hof verskyn oor ’n ander saak,” het sy vriendin, Nicoleen Watkins, aan Netwerk24 gesê.

Netwerk24 het Donderdag berig Leibrandt het verskeie hangende sake teen hom wat dateer van sover terug as 2016.

Uys sê hy het op die betrokke aand omstreeks 21:30 na ’n kuierplek in die weste van Pretoria gegaan waar hy liedjies sou oefen.

“Ek het deelgeneem aan ’n sangkompetisie, Pub Star, en ek wou my liedjies toets op die klante wat in die kroeg was.”

Alhoewel Uys na die halfeindrondte van dié kompetisie deurgedring het, kan hy nie meer deelneem nie weens die erns van sy beserings.

Francois Leibrandt het glo 'n string klagtes van aanranding teen hom. Foto: Facebook

Hy beweer hy is in die kroeg voorgekeer deur iemand wat gesê het: “Dis jou seun wat k*k gemaak het.”

Francois Leibrandt en Cindy Esterhuizen was na bewering betrokke by die aanranding van konst. Leon Mentz van Sinoville en sy broer. Foto: Facebook

Uys sê hy het nie eens ’n seun nie, maar voordat hy kon keer het die vuishoue op hom neergereën.

Uys se regterkakebeen is in die voorval gebreek en sy neus en sinusholte moes herbou word. Hy het ook kopbeserings opgedoen.

Uys is onmiddellik ná die aanranding na die Hercules-polisiekantoor waar hy ’n saak teen die drie aanvallers aanhangig gemaak het. Hy is daarna na die Eugene Marais-hospitaal waar hy behandeling vir sy beserings ontvang het. Hy is ook later na die Groenkloof-hospitaal verwys.

Volgens ’n polisiebron is Leibrandt wel aangekla van aanranding in dié saak, maar hy moet nog in die hof verskyn op die aanklag. Netwerk24 kon nie Leibrandt se prokureur bereik vir kommentaar nie.

Meer oor:  Konst. Leon Mentz  |  Francois Leibrandt  |  Pretoria  |  Polisieman  |  Aanranding  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.