Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Kroonstad-moord: Tuinier ‘is briljante strateeg’

John Mohoboko is ’n briljante strateeg, het regter Lani Opperman Maandag in haar uitspraak in die binneverhoor van ’n moordverhoor in Kroonstad se rondgaande hof gesê.

Engelé Rossouw saam met haar ma, Elsabé Jooste. Die twee vroue het in een huis gebly. Foto: verskaf

Die moordverhoor spruit uit die dood van Engelé Rossouw (47) wat op 24 Desember 2016 in haar ouerhuis in Kroonstad vermoor is.

Rossouw en haar ma, Elsabé Jooste, het saam in die huis gewoon, maar Jooste was ten tye van die moord by die see.

Opperman het beslis dat ’n verklaring wat Mohoboko voor landdros Ian Redelinghuys afgelê het, as getuienis toegelaat sal word.

Nadat hy in hegtenis geneem is, het Mohoboko ’n verklaring afgelê waarin hy al die blaam vir die moord op sy medebeskuldigde, Grens Mosala, plaas.

Mohoboko het beweer dat hy die verklaring uit vrees vir die polisie afgelê het.

Ná Opperman se uitspraak het Redelinghuys Mohoboko se verklaring aan die hof voorgelees.

Mohoboko het gesê dat hy op 24 Desember 2016 besig was om in die tuin te werk toe “Blanka” oftewel Mosala by hom aangekom en ’n sigaret gevra het.

Mohoboko het gesê “Blanka” het weer geloop. Ná ’n ruk, terwyl hy sy middagete geëet het, het hy glo iets in die huis gehoor breek.

Hy het die deurklokkie gelui maar Rossouw het nie die deur oopgemaak nie. Hy het gesien “Blanka” is in die huis, waarna laasgenoemde hom by die deur ingetrek het.

“Blanka” het handskoene aangehad en daar was krapmerke aan sy gesig, lui die verklaring.

“Blanka” het hom glo vertel dat hy Rossouw vasgemaak het en dat hy Mohoboko sal doodmaak as hy praat.

“Blanka” het hierna artikels uit die huis in ’n wit Volkswagen Jetta, wat aan Rossouw se ma behoort, gelaai en hulle het saam daar weggery.

Engelé Rossouw by haar pa, Sef Jooste. Jooste was reeds oorlede toe sy dogter vermoor is. Foto: verskaf

Hulle het Mohoboko se swanger vriendin op ’n kleinhoewe gaan oplaai en iemand gaan soek in die Moakeng-township wat die twee skootrekenaars se wagwoorde kon omseil.

Mohoboko sê in sy verklaring dat “Blanka” hom R1 500 en ’n paar tekkies gegee het.

Hy het glo die Dinsdag (27 Desember) weer by die huis opgedaag om te werk. Die buurman het hom geroep en gesê iets baie sleg het gebeur.

Hy is ’n koppie koffie aangebied en het toe gehoor dat Rossouw dood is. Hy was so ontsteld dat hy homself natgemaak het, het Mohoboko in sy verklaring gesê.

Mosala het telkens sy kop geskud terwyl Redelinghuys die verklaring aan die hof gelees het.

Die polisie het Mohoboko glo daarna ondervra en ’n DNS-monster, asook sy vingerafdrukke geneem. Hy is vrygelaat maar is twee dae later op ’n aanklag van moord in hegtenis geneem.

*Adv. Vasiliki Patrinos tree namens Mohoboko op en Lawrence Tshabalala vir Mosala. Adv. Jacques Harrington kla aan.

Meer oor:  Engelé Rossouw  |  Kroonstad  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.