Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Krugersdorp: Strydige sienings oor Marcel se berou
Marcel Steyn Maandag in die hooggeregshof in Johannesburg. Foto: Simon Sonnekus

Die veroordeelde reeksmoordenaar Marcel Steyn (21) “toon tans geen berou nie” wat ’n “faktor vir verswaring van straf” in die saak is.

So lui ’n tweede verslag deur ’n maatskaplike werker met geheel en al ’n ander bevinding oor Marcel se berou as die verslag wat Dinsdag voor die hof gedien het.

Marcel verskyn Donderdag weer saam met Cecilia Steyn (38) en Zak Valentine (34) in die hooggeregshof in Johannesburg vir die afhandeling van die voorvonnisverrigtinge. Al drie is skuldig bevind aan die opspraakwekkende Krugersdorp-moorde.

Elsabé Bosch-Brits, ’n maatskaplike werker met 29 jaar ondervinding, se verslag is by die hof ingedien en die staatsaanklaer het ’n ander getuie Dinsdag daaruit gekruisondervra.

Bosch-Brits, wat ook ’n geregistreerde psigometris is en besig is met haar doktorsgraad in maatskaplike werk (forensiese praktyk), het nie self in die hof getuig nie.

Hoewel die inligting in die twee verslae baie ooreenstem, verskil dit hemelsbreed op die punt van berou.

Luidens die verslag deur Bosch-Brits voel Marcel geen emosie ten opsigte van die agt moorde en misdrywe waaraan sy skuldig bevind is nie.

Netwerk24 het verneem dat dié verslag opgestel is nadat Bosch-Brits onder meer vyf keer oor vier maande in konsultasie met Marcel was.

“Sy voel net emosioneel oor die gevolge vir die oorledenes en hul families. Die beskuldigde het gesê sy voel hartseer dat die oorledenes van hul drome, toekoms, liefde en betrokkenheid in hul families beroof is,” lui die verslag.

Daarvolgens het Marcel se ma, Marinda, en Cecilia nooit toegelaat dat Marcel enige emosie toon nie omdat dit glo op swakheid dui.

Bosch-Brits skryf dit kom voor asof Marcel probeer om ’n gevoel van berou te hanteer, maar dit terughou weens ’n vrees dat sy nie die vermoë gaan hê om die realiteit van haar dade te aanvaar nie.

Sy is daarom ook bang om skuld en spyt te voel, lui die verslag.

“Die ondergetekende is (dus) van mening dat die beskuldigde nie tans berou het nie en dis ’n verswarende faktor in hierdie saak,” skryf Bosch-Brits.

Daarteenoor het Rosalind Macnab, ’n opvoedkundige en voorligtingsielkundige van Bedfordview aan die Oos-Rand, Dinsdag getuig die koue Marcel is nie die ware Marcel nie. 

Volgens Macnab kom Marcel afgestomp en emosieloos voor. Macnab glo egter dis net ’n hanteringsmeganisme wat sy waarskynlik weens haar moeilike omstandighede aangeleer het.

Sy het bevind dat Marcel tekens van bipolêre gemoedsversteuring toon, sonder psigotiese simptome, wat volgens haar beteken Marcel is nie uit voeling met die werklikheid nie.

Toe Macnab Dinsdag in die hof met Bosch-Brits se verslag gekonfronteer is, het sy volgehou dat Marcel wél berou het en tydens hul twee konsultasies emosioneel geraak het.

bloedspoor

Lees ook: Krugersdorp-moorde: 'n Spesiale verslag

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.