Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: ‘All lives matter’ skree mense voor hof in Hartswater

So stil soos ’n begrafnisstoet met net die bakkies se enjins wat saggies dreun het boere en inwoners van die Vaalharts-skema Donderdagoggend stadig deur Hartswater gery.

Die somber stilte is met tye onderbreek deur polisiesirenes.

Dit is hoe mense van die omgewing besluit het om protes aan te teken oor die moorde op die Brand-egpaar, Dan (83) en Breggie (73), en hul dogter Elzabie (54).

Plaaslike inwoners het hulle by boere aangesluit en later het hulle voor die landdroshof betoog en geskree “All Lives Matter”.

Hulle meen die vyf verdagtes, wat vanoggend in die hof verskyn, moet nie op borgtog vrygelaat word nie.

Die voertuie het teen 20 km per uur om en om verby die hof en polisiekantoor gery.

’n Somber gevoel het in die dorp geheers soos mense in stilte die stoet van meestal bakkies aanskou het.

Dan se rooi Nissan Micra was sigbaar waar dit staan in die polisiewerf met sy neus pad se kant toe, asof die motor uitkyk op die stoet.

Die Brands se buurvrou het Sondagmiddag gesien hoe die Micra en Elzabie se grys Mazda CX-5 stadig verby haar huis ry en later besef dit was die rowers wat omstreeks 13:00 op die Brands se kleinhoewe toegeslaan het wat die motors bestuur het.

’n Grootskaalse soektog is Maandag begin nadat bure en familievriende gaan ondersoek instel het oor hoekom die Brands nie hul fone beantwoord nie. Die huis was omgekeer en daar was bloed en sleepmerke.

hof, hartswater
Inwoners van Hartswater en boere van die omgewing betoog voor die hof. Foto: Anena Burger

Die Micra is nie lank daarna nie in die Takaneng-nedersetting naby Taung opgespoor. Taung is sowat 30 km van Hartswater af.

Elzabie se motor is Maandag omstreeks 23:00 op die N18 net duskant Pudimoe voorgekeer. Die pad loop tussen Hartswater en Vryburg.

Die polisie het die 42-jarige vrou wat die motor bestuur het en twee mans van onderskeidelik 18 en 19 jaar in hegtenis geneem.

’n Vierde verdagte, ’n 20-jarige man, is Dinsdagoggend aangekeer en ’n vyfde, ’n 36-jarige man, Dinsdagmiddag.

hartswater, hof
Die betogers teken protes aan teen plaasmoorde en eis dat die verdagtes in die aanval op die Brand-gesin nie borgtog kry nie. Foto: Anena Burger

Die eerste drie verdagtes het blykbaar aan die polisie gewys waar Elzabie se lyk versteek is. Sy is Dinsdag omstreeks 01:00 in ’n veld naby Takaneng in Taung gevind.

Die lyke van Dan en Breggie is sowat 500 m uitmekaar gevind, meer as 1 km van waar Elzabie se lyk was.

Volgens brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, het die egpaar steekwonde aan hul kop gehad.

Elzabie is ook met steekwonde en beserings aan haar gesig en kop gevind.

Ramatseba sê ’n nadoodse ondersoek sal vandag op die drie gesinslede uitgevoer word.

Meer oor:  Breggie Brand  |  Dan  |  Elzabie  |  Hartwater  |  Noord-Kaap  |  Hof  |  Moord  |  Misdaad  |  Plaasaanval  |  Roof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.