Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: Carlo Arendse verlaat hof omring deur sy lyfwagte

Carlo Arendse sal vermoedelik aanvoer dat hy in selfverdediging opgetree het en homself en/of sy werknemer teen JB Strydom beskerm het toe hy laasgenoemde geskiet het.

Strydom (44), wat volgens bronne soms as ’n “skuldinvorderaar” opgetree het, is dood nadat hy Maandag een keer in die parkeerterrein van die Menlyn Maine-winkelsentrum in Pretoria geskiet is.

Arendse (45), ’n welgestelde sakeman, is kort daarna in hegtenis geneem en het Woensdag in die landdroshof in Pretoria op aanklagte van moord, die rig van ’n vuurwapen en intimidasie verskyn.

Andries Ferreira (35), halfbroer van JB Strydom (44) wat Maandag in die parkeerterrein doodgeskiet is. Foto: Deaan Vivier

Nie die staat of die ondersoekbeampte het sy vrylating op borgtog teengestaan nie, onder meer omdat Arendse nie ’n vlugrisiko is nie, daar nie in die stadium aangevoer word dat hy vir Strydom met voorbedagte rade geskiet het nie, en hy nie met die ondersoek kan inmeng nie.

Ao. Peter Maharela, die ondersoekbeampte, het in ’n verklaring aan die hof verduidelik dat Arendse en ene Dino de Sousa ’n ooreenkoms aangegaan het waar De Sousa geld en ’n voertuig by Arendse geleen het.

Luidens Maharela se verklaring het De Sousa agterstallig met van die terugbetalings geraak.

Arendse het ’n saak van onregmatige gebruik van ’n voertuig teen De Sousa by die polisie ingedien.

Die voertuig is toe teruggeneem.

“De Sousa was ontsteld hieroor. Op die dag van die voorval het hy vir Ricardo Berto en die oorledene saam geneem en hulle het die beskuldigde genader, wat by Menlyn Maine was saam met sy familie en motorbestuurder.

“Daar was ’n argument tussen De Sousa en die beskuldigde oor die teruggeneemde voertuig. Die oorledene (Strydom) het by die argument betrokke geraak,” lui die verklaring.

Dit blyk dat Arendse en Strydom toe handgemeen geraak het en die beskuldigde se motorbestuurder het sy werkgewer te hulp gesnel.

Luidens die ondersoekbeampte se verklaring het Arendse ’n skoot op Strydom afgevuur en toe die wapen op De Sousa gerig.

JB Strydom in Engeland waar hy glo ’n nuwe begin wou maak.

Maharela het bygevoeg dat hy ná Arendse se inhegtenisneming gesien het die beskuldigde het ’n toegeswelde oog en kneusmerke op sy arms.

Die motorbestuurder het ook (in daardie stadium onder die indruk dat Strydom nog leef) ’n klag van aanranding met die opset om ernstig te beseer teen Strydom ingedien.

Luidens Arendse se verklaring, voorgelees deur sy regsverteenwoordiger, Devin Moodley, is hy getroud, het drie minderjarige kinders en versorg ook sy bejaarde ouers.

Hy bly in Midstream buite Centurion en is die direkteur van RA Cole, ’n steenkoolverwerkingsmaatskappy.

Hy is ook ’n aandeelhouer en direkteur van verskeie ander maatskappye.

Volgens Arendse het die staat nié ’n sterk saak teen hom nie en sal hy skuld ontken.

“Ek is aangerand tydens die voorval wat gelei het tot dié saak en benodig mediese behandeling,” het hy gesê.

Landdros Thandi Theledi het borgtog van R8 000 toegestaan, op voorwaarde dat Arendse sy paspoort inhandig, een maal ’n week by die polisie aanmeld en geen kontak met die staatsgetuies het nie.

Die saak is tot volgende jaar vir verdere ondersoek uitgestel.

Arendse het kort nadat sy borgtog betaal is, onder begeleiding van lyfwagte, blitsig in ’n wagtende swart kombi met donker vensters geklim.

Strydom se halfbroer, Andries Ferreira, was Woensdag ontsteld dat sy broer se vermeende moordenaar op borgtog vrygelaat is.

“R8 000 sodat hy by sy familie is en Kersfees saam met hulle kan spandeer, terwyl ons familie met hartseer sit en rou – net met die herinneringe van ’n broer, pa en man wat hy (die beskuldigde) weg gevat het. Ek is sprakeloos,” sê Ferreira.

Carlo Arendse in die landdroshof in Pretoria waar hy op onder meer ’n aanklag van moord verskyn het. Foto: Deaan Vivier
Carlo Arendse, wat glo vir JB Strydom doodgeskiet het, stap uit die beskuldigdebank nadat sy aansoek om borgtog toegestaan is.Foto: Deaan Vivier
Carlo Arendse koes agter ’n lyfwag nadat hy die hofgebou verlaat het. Foto: Deaan Vivier

Volgens hom is Strydom se familie verpletter en wil hul net hul broer begrawe.

Ferreira, wat Maandag omstreeks 13:30 die doodstyding ontvang het, sê hulle het nog nie die volle waarheid nie, “net brokkies hier en daar oor wat kon gebeur het”.

Strydom was vir ’n kort besoek in Suid-Afrika nadat hy saam met sy gesin onlangs na Birmingham, Engeland, geëmigreer het.

Hy sou Vrydag daarheen teruggekeer.

Ferreira het die Maandagoggend nog met sy broer oor die telefoon gepraat en hulle sou mekaar later daardie dag sien.

Die familie se steunpilaar is van hul weggeruk, sê Ferreira.

Strydom se vrou het intussen in Suid-Afrika aangekom nadat sy Maandag die nuus van sy dood ontvang het.

Sy was te getraumatiseerd om met die media te praat.

Ek het na die video gekyk en in trane uitgebars . . . ek het net by ’n pilaar gestaan en huil.

Volgens Ferreira is sy veral ontsteld oor vals gerugte wat versprei word nadat ’n kort video van die skietvoorval wyd op sosiale media gedeel is.

Ferreira het ook dié video gesien en was merkbaar emosioneel terwyl hy vertel hoe die video hom geraak het.

In die video kan gesien word hoe ’n man in ’n wit T-hemp en met ’n rugsak, half eenkant staan en kyk na die bakleiery voordat hy sy vuurwapen oplig en skiet.

’n Vrou in ’n wit rok probeer op die oog af om die bakleiery stop te sit.

“Ek het na die video gekyk en in trane uitgebars . . . ek het net by ’n pilaar gestaan en huil,” sê Ferreira.

Hy sê hy hoop dat die polisie sal die saak deeglik ondersoek.

“My broer was ’n mens wat uiters lojaal teenoor sy familie was. Hy sou enigiets vir hulle doen. Hy was ons yster en steunpilaar.”

Hy sê Strydom wou net die beste vir sy gesin hê en was daarom juis te meer bly oor die nuwe begin oorsee.

Ferreira het verwys na gerugte dat Strydom betrokke was by die “onderwêreld” van die insleepbedryf in Boksburg.

“In die media is berig dat my broer gehuur is deur die insleepdienste om te baklei. Hy het later sy eie besigheid begin, maar het uiteindelik besluit om eerder ver weg te trek en oor te begin,” sê Ferreira.

'Video wys nie alles'

Bronne beweer De Sousa het destyds “ ’n aansienlike bedrag geld met baie nulle” by Arendse geleen.
Hy was glo “baie ontsteld” toe Arendse 'n voertuig laat terugneem het.

“Die mans het nié Maandag ’n afspraak gehad nie. Mnr. Arendse was by Menlyn Maine saam met sy gesin.

“Hulle het daarna in die parkeerterrein vir die chauffeur gewag toe De Sousa en twee baie fris manne daar aankom,” het verskeie mense beweer.

Waaroor die bronne eens is, is dat ’n video van die voorval nie alles wys nie, veral nie wat die skietery voorafgegaan het nie.

Polisiebronne sê ook daar was sedert 2011 verskeie sake van onder meer aanranding teen Strydom ingedien, maar dit is glo telkens teruggetrek.


Meer oor:  Menlyn Maine  |  Jb Strydom  |  Carlo Arendse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.