Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: ‘Cecilia, ek bly jou pa’

“Wag, daar kom sy,” sê Cecilia Steyn (38) se ma toe die veroordeelde Krugersdorp-moordenaar teen die trappe onder die hof uitstap en by die beskuldigdebank inskuif.

Zak Valentine en Cecilia Steyn Dinsdag in die hooggeregshof in Johannesburg. Foto: Simon Sonnekus

Mara Brand sit langs haar man, Piet. Sy gesig verhelder en daar is ’n yslike glimlag op sy gesig toe hy sy dogter Cecilia sien.

Dit was ’n groot oomblik. Dit is die eerste keer in vier jaar dat Piet sy dogter in lewende lywe sien.

Cecilia, Zak Valentine (34) en Marcel Steyn (21) is terug in die hof vir die voorvonnisverrigtinge nadat hulle in Junie skuldig bevind is aan die opspraakwekkende Krugersdorp-moorde.

“Dis darem nie lekker om jou kind so te sien nie,” sê Mara.

“Meisiekind, ek het gister verjaar, toe besluit ek om my kind vandag te kom sien,” sê Piet aan Netwerk24.

Mara besoek haar dogter gereeld in die tronk, maar volgens Piet wou Cecilia hom al die jare nie sien nie nadat hulle ’n uitval gehad het.

Hy hou sy dogter dop waar sy met Valentine probeer gesels voordat die hof ná die teepouse hervat. Valentine is nie heeltemal hartlik teenoor haar nie. Sy sien nie haar ouers heel agter in die hoek in die openbare galery sit nie.

Dis die eerste keer dat die Brands hul gesig in die hof wys sedert die saak na die hooggeregshof in Johannesburg oorgeplaas is.

Volgens Piet het hulle die hofsaak ophou bywoon omdat die publiek hulle by die laer howe in Krugersdorp uitgejou het.

Piet en Mara Brand, Cecilia Steyn se ouers. Foto: Simon Sonnekus
Piet en Mara Brand, Cecilia Steyn se ouers, was Dinsdag vir die eerste keer in die hooggeregshof. Foto: Simon Sonnekus

“Die ondersoekbeampte het gesê hy sal my vandag na haar toe vat. Sy het gesê dis reg as ons haar wil sien,” sê Piet opgewonde.

Cecilia Steyn sien haar ouers agter in die hof se openbare galery. Foto: Simon Sonnekus

Toe die hof verdaag vir middagete, bly die egpaar agter in die hofbanke sit. Kapt. Ben Booysen, die ondersoekbeampte, roep hulle nader en verduidelik hy gaan hulle nou twee verdiepings laer na die selle neem.

Piet loop moeilik, maar nie eens die trappe blus sy opgewondenheid om Cecilia te sien nie.

In die selle roep Mara vir Cecilia deur twee traliehekke. Cecilia staan met ’n polistireenbakkie met haar middagete in haar hand en eet met ’n vurk.

Sy vat groot happe terwyl haar ma geselsies maak en hoor hoe dit gaan.

“Kan ek daai briefies wat Marcel jou gegee het vir Moedersdag ook vir hierdie hof gee?” vra Mara.

Cecilia lag. “Dit sal niks maak nie, Ma.”

Haar pa probeer haar aandag kry. Ná vier jaar het hy ’n belangrike ding op die hart: “Luister, Pop, luister mooi wat ek vir jou sê. Ek bly jou pa en ek sal altyd jou pa bly. Ek kan nie help wat julle gedoen het nie, maar al wat ek kan sê, is ek . . .” Die gevangenes in die oorvol sel agter hom skreeu hom dood, maar Cecilia hoor hom.

“Dankie, Pa,” antwoord sy en vat weer ’n hap van haar kos.

Piet en Mara Brand sit heel agter in die openbare galery. Foto: Simon Sonnekus

Meer oor:  Zak Valentine  |  Cecilia Steyn  |  Piet Brand  |  Mara Brand  |  Marcel Steyn  |  Krugersdorp  |  Moordenaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.