Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: DA na hof oor Ace sê ‘wit mense is uitlanders’

Die DA het ’n klag van haatspraak teen Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC en voormalige Vrystaatse premier, by die gelykheidshof ingedien.

Dr. Roy Jankielsohn. Foto: Netwerk24

Die klag kom ná sy uitlating dat “wit Suid-Afrikaners uitlanders is en aan geweld blootgestel moet word”.

So sê dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, in ’n nuusverklaring. By die verklaring is ’n video as bewys van die beweerde haatspraak deur Magashule en een van Jankielsohn voor die gelykheidshof aangeheg.

“Ek het ’n beëdigde verklaring by die gelykheidshof in Bloemfontein ingedien. Ek vra dat die hof Magashule en die ANC, onder wie se leierskap die stellings gemaak is, individueel of gesamentlik beveel word om ’n nuuskonferensie te hou sodat hulle om verskoning kan vra vir die skade wat hierdeur (die uitlating) aangerig is,” sê Jankielsohn.

Volgens hom brandmerk Magashule wit Suid-Afrikaners as uitlanders, wat aan geweld onderwerp moet word.

Jankielsohn sê nié pres. Cyril Ramaphosa óf die regerende party, wat homself volgens die Vryheidsmanifes as nierassig bestempel, het ’n verklaring uitgereik om die uitlating van Magashule, wat op haatspraak neerkom, te veroordeel nie.

Volgens hom het Magashule die uitlating op 5 September gemaak toe hy ’n toespraak op ’n saamtrek van die South African Students’ Congress (Sasco) by die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie in Pretoria gelewer het.

Dit was ten tyde van die geweld teenoor buitelanders van ander Afrikalande wat in Suid-Afrika bly.

Jankielsohn sê in sy toespraak het Magashule onder meer gesê (luister na die video): “Julle moet nooit veragtelik optree teenoor mense met dieselfde velkleur as julle nie. Hul velkleur, of dit nou burgers van Mosambiek, Angola of Nigerië is, of van enige van die 54 Afrikalande, wys daarop dat hulle Afrikane is.

“Daar is baie met ’n wit vel, julle ken hulle, hulle is hier. Julle kan nie vir die een sê hulle is ke le kwerekwere (aanstootlike term vir buitelanders) nie.

“Hulle kom van elders. Hulle is in die land. Hulle is nooit aangeval nie en hulle is uitlanders, want hul velle is wit.

Ace Magashule. Foto: Netwerk24

“Julle moet verstaan hoekom Afrika moet verenig, juis omdat wit mense nie wil hê Afrika moet saamstaan nie.”

Jankielsohn sê in sy beëdigde verklaring hulle beskou die uitlating ingevolge die Wet op Gelykheid (wet nr. 4 van 2000) en art. 16 van die Grondwet as haatspraak en aanhitsing tot geweld teen wit mense.

“Ek beskou ook die taal as rassisties van aard. Daar bestaan geen twyfel nie dat die doel van die uitlating is om wit Suid-Afrikaners te brandmerk as uitlanders wat aan dieselfde geweld onderwerp moet word as wat onlangs teenoor buitelanders in Suid-Afrika gepleeg is.

“Dié uitsprake kan verder beskou word as ’n doelbewuste poging om wit Suid-Afrikaanse burgers ’n teiken te maak as mense wat in die breë gemeenskap geminag moet word.”

In ’n samelewing wat daarna strewe om die beginsels van ’n demokrasie en rasseverdraagsaamheid toe te pas, het die howe ’n baie belangrike rol om toe te sien dat daar volgens aanvaarbare gedragskodes opgetree word en dat die interaksie tussen groepe en individue in Suid-Afrika gesond bly, sê Jankielsohn.

“Die verantwoordelikheid om ’n voorbeeld te stel aan die res van die gemeenskap rus op die skouers van alle leiers in gemeenskappe, spesifiek politieke leiers in die regerende party.

“Dit is ’n skande dat Magashule ’n geleentheid misbruik het om haatspraak aan te wakker op ’n platform waar hy met jong mense gepraat het,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.