Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: Dít was fout in Fred, Oscar en Shrien se sake

Onbeantwoorde vrae, bewysstukke wat beskikbaar is, maar nooit in die hof gewys is nie en nuwe bewysstukke wat in die aanvanklike ondersoek gemis is.

Dit is net drie belangrike punte wat Thomas Mollet, onafhanklike forensiese ondersoeker en skrywer, aan die groot klok wil hang om te wys dat daar steeds probleme in die proses na geregtigheid is.

“Sally” die pop se kop, glase, krieketkolwe, hamers en DVD-houers wat Thomas Mollet gebruik het om sy mening oor vier strafsake te illustreer. Foto: Adrian de Kock

Mollet het Saterdag in ’n aanbieding op Stellenbosch oor vier hoëprofielsake meer diepte-inligting met die publiek gedeel.

“Ek doen dit nie vir geld nie, nie omdat ek dink ek is slim nie, maar omdat ek geregtigheid vir die slagoffers, families en beskuldigdes wil hê. Ek wil mense inlig en as ’n skakel tussen die verskeie departemente dien om geregtigheid te vind.”

Hy het oor die Fred van der Vyver, Shrien Dewani, Henri van Breda en Oscar Pistorius-sake gepraat.

Mollet het baie duidelik gesê hy maak geen bevindinge nie. Hy stel net forensiese feite, wat hy persoonlik getoets het, bekend. “Mense moet self besluit. Ek is nie hier om bevindinge te maak nie, net die feite weer te gee en hopelik die proses na geregtigheid te versterk.”

Fred van der Vyver/Inge Lotz

Mollet het begin deur te fokus op van sy vorige bevindinge, die vingerafdruk wat van die DVD-houer gekom het en nie die glas soos wat aangevoer is nie.

Inge Lotz en Fred van der Vyfer Foto: Rapport

Die hamer, wat as bewysstuk uitgesluit is, is volgens hom die moordwapen. Hy het dit verskeie kere getoets en die merke stem ooreen met die tientalle beserings op die jong Matie-student se liggaam.

“Die ‘klein hamer’ waarna verwys is in die saak, was nie net ’n klein hamer nie.”

Hy het die hamer getoets op verskeie oppervlakte en dalk die skokkendste, is die toets waar hy ’n teël, wat op ’n kussing rus, te pletter kraak wanneer dit daarop val.

Toetse is destyds met ’n soortgelyke hamer gedoen op ’n varkkop wat op ’n staaltafel geplaas is. Die hamer is beskadig en nie die kop nie.

“Daar is ’n groot verskil tussen ’n kop op ’n staaltafel en ’n kop van ’n jong vrou wat op ’n kussing rus,” het Mollet gesê.

Hierna het hy na twee punte verwys wat moontlik die saak in ’n ander rigting sou kon draai.

Van der Vyfer se lynhoof, Shana Toefy, is vier keer die oggend van Inge se moord gebel, maar sy is nooit geroep om te getuig nie. Volgens Mollet moet sy iets weet wat meer lig op die saak kan werp. Daar is ook 105 minute waaroor Fred nog nooit rekening kon gee nie.

Tweedens, en dalk meer omstrede, is ’n besering wat op Inge se maag, by haar heup gevind is – ’n snywond in die vorm van ’n pyl wat na Inge se geslagsdeel wys.

“Hierdie saak het kentekens van ’n baie gelowige ondertoon, dit is dalk ’n boodskap of ’n stelling wat die moordenaar gemaak het.”

’n Lid van die gehoor het daarop gewys dat Inge baie slim was; sy kon goed sing en klavier speel. Sy het ’n goeie hart gehad.

“Dit is baie voor die hand liggend dit was ’n monster wat dit gedoen het. Haar kop, keel, hand en hart is aangeval, asof die persoon haar wou leed aandoen. Nie net vermoor nie, maar seermaak,” het die toeskouer gesê.

Shrien Dewani

Shrien Dewani en Anni Hindocha

Volgens Mollet is hierdie saak se uitkoms baie teleurstellend. Hy voer aan die staat is nooit die geleentheid gegee om sy argumente te ontwikkel nie, en daardeur geen sterk bewyse voor die hof te plaas nie, alhoewel hulle dit gehad het. Die feit dat Traverso nie die staat toegelaat het om die getuienis en bewyse van Dewani se seksualiteit aan te bied nie en daardeur sy dubbele lewe te ontbloot nie, moes nooit gebeur het nie. Dit was ’n baie belangrike deel van die saak, volgens Mollet.

En toe Dewani se regspan ’n aansoek om ontslag by regter Jeanette Traverso indien en sy dit toestaan op grond dat daar nie genoeg bewyse teen Dewani is nie, is net “absurd”.

Benewens dit voer Mollet aan dat Dewani nie een keer, in mediaonderhoude, polisieonderhoude en sy pleitverduideliking, dieselfde weergawe gegee het nie.

“Dié saak word gekenmerk deur verskeie leuens.”

Oscar Pistorius

Oscar Pistorius Foto: Liza van Deventer

In hierdie saak is daar bewyse wat die ondersoekspan misgekyk het. Nie net dit nie, maar Oscar se weergawe moes sterker getoets wees.

Pistorius se slaapkamerdeur was beskadig deur ’n merk wat deur ’n windbuks se balletjie gemaak was. Verder was daar kaphoue aan die kant van die deur.

“Hierdie is eers na die tyd gevind, en as die staat dit aangebied het, sou dit dalk ’n verskil kon maak.”

Verder was daar ’n plaat in die badkamer, teen die muur, wat heeltemal ingeskop is, en dit kon ’n bydraende faktor wees om die gewelddadigheid van die aand te bewys.

Daar was ook ’n besering aan een van Reeva Steenkamp se arms, wat soortgelyk is aan ’n besering wat moontlik deur ’n windbuks veroorsaak kon wees, maar wat nooit aangeteken is nie.

Benewens dit als voer Mollet aan die staat is nie baie sterk deur sy kenners bygestaan nie.

Henri van Breda

Henri van Breda Foto: Jaco Marais

Mollet het hier baie lof vir regter Siraj Desai gehad en hoe hy die saak hanteer het.

Die enigste ding wat Mollet graag sou wou sien, is meer getuienis oor die byl.

Die byl se lem en die boonste deel van die handvatsel was vol bloed, maar die onderste deel is duidelik skoongevee. “Hoe was dit moontlik?” het Mollet gevra. Volgens hom moes Van Breda se afdrukke op die byl gewees het omdat hy die byl laaste hanteer het.

Meer oor:  Moord  |  Hof  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.