Die polisiebestuur in Noordwes het in ’n verklaring sy afgryse oor die “onprofessionele en onwelvoeglike gedrag” van ’n konstabel van Wolmaransstad uitgespreek.
Omstanders het Saterdag ’n video geneem waarop gesien kan word hoe hy met ’n polisievangwa in ’n heining vasry. Inwoners help hom dan uit die voertuig om vir hom te wys wat hy gedoen het, maar hy kan nie op sy voete bly nie. ’n Omstander moes hom vasgryp om te keer dat hy omval.
Die video is op WhatsApp en sosiale media gedeel.
Die polisie het bevestig dat hy in uitbreiding 10 van die Tswelelang-nedersetting met die voertuig in die heining vasgery het en dat hy nie magtiging gehad het om ’n staatsvoertuig te bestuur nie.

’n Omstander moes die polisiekonstabel regop hou. Foto: Skermgreep
Hy is in hegtenis geneem en intussen op borgtog van R500 vrygelaat. Hy sal Maandag in die plaaslike landdroshof verskyn.
“ ’n Saak van die roekelose en/of nalatige bestuur onder die invloed van alkohol word ondersoek. Volgens ’n voorlopige ondersoek blyk dit dat die konstabel nie gemagtig is om ’n staatsvoertuig te bestuur nie. Hy sal dus ook daarvan aangekla word dat hy ’n motorvoertuig sonder die eienaar se toestemming gebruik het,” sê brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder.
'n Interne ondersoek word ook ingevolge die SAPD se dissiplinêre regulasies gedoen.
Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris, het in reaksie gesê alle lede moet te alle tye professioneel optree en die polisie se gedragskode nakom. “Dit sluit in om beskikbare hulpbronne verantwoordelik te gebruik en die gemeenskap se behoeftes te oorweeg.”