Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: EFF sê Catzavelos-uitspraak sal nie rassisme keer

Die veroordeelde rassis Adam Catzavelos se vonnis is onvoldoende om as afskrikmiddel te dien en te keer dat ander op ’n soortgelyke manier optree, sê die EFF in Gauteng.

Catzavelos is Donderdag in die landdroshof in Randburg gevonnis tot ’n boete van R50 000 of twee jaar tronkstraf, albei opgeskort vir vyf jaar.

“Dit lyk asof mense rassisties kan optree en dan na die gelykheidshof hardloop, waar hulle ’n boete sal kry. Die meeste wit mense in die land het die geld om die boetes te betaal, weens die voordeel van 400 jaar se verdrukking (van swart mense),” het Mandisa Mashego, voorsitter van die EFF in Gauteng, ná die hofverrigtinge gesê.

Mashego het in 2018 die saak teen Catzavelos aanhangig gemaak nadat hy vroeër daardie jaar die k-woord in ’n video gebruik het.

Catzavelos het intussen aan swart mense en die hele Suid-Afrika om verskoning gevra.

Adam Catzavelos saam met sy prokureur, Lawley Shain, ná die hofverrigtinge. Foto: Arisa Janse van Rensburg

Landdros Hleziphi Mkhasibe sê sy kon sien Catzavelos toon werklik berou oor sy dade.

“Die beskuldigde het onder eed gesê hy is jammer en ek het geen rede om te glo hy was nie opreg nie,” sê Mkhasibe.

Catzavelos is besig met gemeenskapswerk by die Seth Mazibuko Legacy Foundation en Seth Mazibuko het in die voorvonnisoplegging in Catzavelos se guns getuig.

Lawley Shain sit langs sy kliënt Adam Catzavelos voor die hofverrigtinge. Foto: Arisa Janse van Rensburg

Mkhasibe sê sy glo Mazibuko is besig om Catzavelos te rehabiliteer en dat hy, onder Mkhasibe te toesig, die impak van die video besef.

“Ek is nie verbaas dat hy besluit het om homself in ’n beter mens te verander nie,” het Mkhasibe gesê. Sy het bygevoeg dat ’n mens se foute dikwels bydra tot ’n ommekeer in jou lewe.

Mandisa Mashego wat die saak teen Adam Catzavelos aanhangig gemaak het, is vergesel deur ander EFF-lede. Foto: Arisa Janse van Rensburg

Catzavelos het na die verrigtinge gesê hy is “verlig” deur die uitspraak. “Ek is baie dankbaar dat ek ’n regverdige en redelike landdros gehad het en ek is ook dankbaar vir die uitspraak,” sê Catzavelos.

Adam Catzavelos glimlag breed nadat hy die landdroshof in Randburg verlaat het. Foto: Arisa Janse van Rensburg

Mashego sê hoewel sy nie dink die vonnis gaan ander keer om dit weer te doen nie, sal sy by die hof se beslissing berus en is bly die proses is afgehandel.

Richard Spoor, bekende menseregteprokureur, sê dit is belangrik om te onthou dat rassisme nie ’n misdadige oortreding is nie.

“Selfs al is hy skuldig aan crimen injuria, is tronkstraf nie regtig van pas nie. Ek verafsku rassisme, maar ongelukkig is dit deel van ons samelewing en ons kan nie keer hoe ander mense dink nie,” sê Spoor.

Hy sê vryheid van spraak is ’n basiese reg.

“Die EFF maak gereeld rassistiese opmerkings en niemand vervolg hulle nie,” sê Spoor.

Meer oor:  Adam Catzavelos  |  Rassisme  |  Rassis  |  Rasherrie  |  Crimen Injuria  |  K-Woord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.