Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: Etzebeth se neef in hof oor Weskus-voorval

Die neef van die Springbokslot Eben Etzebeth is Vrydag ná ’n vlugtige verskyning in die landdroshof in Hopefield aan die Weskus op waarskuwing vrygelaat.

Emile Etzebeth (32) was in die hof in verband met die opspraakwekkende voorval in 2019 voor die kuierplek Die Watergat in Langebaan toe twee mans na bewering aangerand en die h-woord genoem is.

Emile word deur twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer in die gesig gestaar. Hy word daarvan beskuldig dat hy op die aand van 24 Augustus 2019 die twee mans, Enver Wilsenach (43) en Siyaad Smith (22), albei van Langebaan, die h-woord genoem en hulle aangerand het.

Daar is destyds kort ná die voorval beweer dat Eben Etzebeth, Emile Etzebeth en nog mense by die voorval betrokke was. Daar was toe ook beweringe dat ’n vuurwapen op die klaers en omstanders gerig is.

Slegs Emile is in verband met die voorval aangekla.

Emile Etzebeth kom Vrydag by die landdroshof in Hopefield aan. Hy het op twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer in die hof verskyn. Foto: Adrian de Kock

Emile het Vrydagoggend vergesel van sy prokureur, André Calitz, by die hof opgedaag. Calitz is ook Etzebeth se prokureur.

Die landdros, Henry Brown, het die media gister toegang tot die hofverrigtinge verbied. In ’n gesprek met ’n joernalis het hy gesê die media het geen reg op toegang tot die hof of om die hofverrigtinge by te woon nie. Hy het ook gesê dat geen familielede van enige van die partye die hofverrigtinge mag bywoon nie.

Die klaers was self nie by die hof nie.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het nadat die hof verdaag is, gesê die saak is tot 14 Mei uitgestel.

Volgens Ntabazalila moet die staat nog die inhoud van die dossier aan die verdediging verskaf. Die uitstel gee die verdediging dan ook die geleentheid om met Emile te konsulteer, sê Ntabazalila.

Calitz het Donderdag by navraag gesê Etzebeth is met vakansie in Toulon, Frankryk.

SA Rugby het Etzebeth verlede jaar ná ’n interne ondersoek vrygespreek. Oudregter Johann van der Westhuizen het toe bevind daar is geen gronde vir die beweringe teen hom nie. SA Rugby het die saak as afgehandel beskou.

Meer oor:  Hof  |  Aanranding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.