Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: F** jou, regter! Prokureur se frustrasie kook oor

Hy is nie so grootgemaak nie en het reeds ’n boodskap aan die regter se klerk gestuur om om verskoning vir sy optrede te vra.

Darren Sampson, die prokureur wat Woensdag met so ’n tirade van skelwoorde teenoor ’n waarnemende regter losgetrek het dat sy versoek het dat hy uit die hof verwyder moet word, sê dit was rou frustrasie wat uitgeborrel het nadat die regter ’n beslissing gemaak het waarmee hy nie tevrede was nie.

“Ek is ook bipolêr en reeds vir maande nie op my medikasie nie, omdat ek onregmatig afgedank is en nie ’n mediese fonds het nie. En die saak van my sloer al jare. So, ek was gutted toe die waarnemende regter daardie bevinding maak,” het hy verduidelik.

Sampson het aan Netwerk24 gesê hy is besig met verskeie regsgedinge. Volgens hom het die regter ’n siviele eis van hom “teruggetrek”.

Die voorval het in ’n virtuele hofsitting gebeur, waar Sampson in die hof voor ’n rekenaar gesit het en die regter elders voor haar rekenaar was.

Dit begin met Sampson wat vir die regter sê: “I’ve been telling you: Their own medical experts and my own medical experts said this man is two slices short of a sandwich.”

Hy verwys na iets wat hy elke keer vir die regter sou noem en voeg driftig by dat hy “siek is daarvoor”.

Die regter antwoord dat sy hoor wat hy sê en nou haar beslissing gaan maak.

Sy staan ’n bevel toe, waarmee Sampson duidelik nie geneë is nie.

Hy val die regter in die rede met ’n herhaaldelike: “F*** you, judge!”

Dan snou hy dieselfde woorde aan “alle regters” toe en in ’n stadium noem hy mense ook hul “ma’s se “p***” terwyl sy stemtoon ’n oktaaf hoër klim.

Sampson staan dan op en beduie woes met ’n pak papiere in die hand terwyl hy verder skel, totdat die regter vra of iemand hom kan verwyder.

Sthembiso Mnisi, woordvoerder van die Raad vir Regspraktyke (LPC), het gesê die voorval spruit uit ’n saak wat Sampson teen sy voormalige werkgewer, die staatsprokureur, het.

Nadat die regter ’n bevinding teen hom gemaak het, spring Darren Sampson op met ’n rits lelike woorde en druk sy gesig teen die rekenaarskerm, voordat hy gevra word om die hof te verlaat. Foto: Skermgreep

“Mnr. Sampson is afgedank en hy staan sy afdanking teen, daarom die regsgeding in die hof. Hy is ’n nie-praktiserende prokureur. Ons weet nie wat veroorsaak het dat hy so . . . ‘ongelukkig’ . . . gereageer het op die video nie, maar dit is onbetaamlike gedrag.

“Ons sal die voorval ondersoek en moontlike tugstappe doen,” het Mnisi bygevoeg.

Sampson het gesê hy besef hy kan waarskynlik daarvan vergeet om “ooit weer as prokureur op te tree”.

“Maar ek het destyds die einste LPC om hulp genader. Hulle en baie ander instansies. Niemand wou my help nie,” voeg hy by.

Hy het verduidelik dat Woensdag se drama ’n aanloop vanaf 2016 het.

Dit het glo begin toe hy ’n regshulp-prokureur in die landdroshof in Protea in Soweto was. Sampson beweer, en stuur koerantberigte wat glo sy stelling staaf dat hy en ander glo die slagoffers van ’n beweerde rassistiese aanklaer was. Daar is selfs, luidens die koerantberigte, klagte by die nasionale vervolgingsgesag teen die aanklaer ingedien.

Nadat ek gesê het dat mediese kundiges sal sê ek is ‘two slices short of a sandwich’. En ek blaas ’n gasket . . .

Die beweerde teistering en viktimisasie het glo voortgegaan.

Volgens hom het hy weens werkstres aan depressie begin ly en is selfs daarvoor gehospitaliseer.

In 2016 het die Regshulpraad hom na die kantoor van die staatsprokureur oorgeplaas.

Hy het intussen ’n siviele eis teen die aanklaer, ’n landdros en die minister van justisie vir naamskending ingedien.

Sampson het gesê dit het dus sy laaste werkgewer, ook ’n staatsinstelling, geraak.

In September 2017 was hy met siekteverlof. Dit het herhaaldelik tot in April vanjaar gebeur.

“Dit was weens die stres van die ding (die regsgeding). Ek het alles probeer – ’n sertifikaat gekry vir private vervolging, gevra vir ’n prokureur om my te verteenwoordig – ook by die LPC. Die Menseregtekommissie het my nie gehelp nie.”

Toe, volgens hom, beweer sy werkgewer dat hy nooit ’n mediese sertifikaat vir sy siekteverlof ingedien het nie en dank hom af.

Woensdag was daar ’n aansoek “van ander partye” om een van sy sake “terug te trek”, wat die regter toegestaan het.

“Nadat ek gesê het dat mediese kundiges sal sê ek is ‘two slices short of a sandwich’. En ek blaas ’n gasket . . .” het hy verduidelik.

Hy het wel Donderdag ’n boodskap aan die regter se klerk gestuur waarin hy verskoning vir sy optrede vra.

“Ek sal ’n formele verskoning ook skryf. Maar, ek gaan beslis teen die regter se bevinding appelleer,” het hy bygevoeg.

Meer oor:  Hof  |  Vloek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.