Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: Getuie sukkel om Packham uit te wys

’n Staatsgetuie het Woensdag gesukkel om Rob Packham as die persoon te identifiseer wat die dag van sy vrou se verdwyning in haar voertuig gesien is.

Packham, ’n sakeman van Constantia, Kaapstad, staan tereg weens die moord op sy vrou, Gill, op 22 Februarie 2018. Haar verkoolde lyk is in haar bottelgroen BMW by Dieprivier se treinstasie gevind.

Die staat het Paul Gray (76) van Meadowridge as ’n getuie geroep. Hy is ’n lid van ’n buurtwag en was op die dag van Gill se verdwyning aan diens.

Rob Packham Woensdag in die hooggeregshof in Kaapstad.Foto: Adrian de Kock

Gray het omstreeks 14:00 met sy patrolliewerk begin. Hy het ’n verdagte BMW sonder nommerplate in Luciusweg in Dieprivier gesien.

Toe hy langs die motor stilhou, het hy ook opgemerk dat daar nie ’n lisensieskyf op die voorruit is nie. Daar was niemand in die motor nie.

Hy het in sy voertuig geklim en verder gery, maar sowat 60 m verder omgedraai. Dit was toe dat hy gesien het dat ’n man in die BMW klim. Hy het nader gery omdat hy met hom wou praat.

“Die man het met sy hande op die stuurwiel geslaan en baie vinnig weggery,” het Gray getuig. Hy het die voertuig gevolg, maar dit ’n paar blokke verder verloor.

Dit was eers twee maande later ná Packham se eerste verskyning in die hof dat Gray ’n uitkenningsparade bygewoon het.

Die staatsaanklaer, adv. Susan Galloway, het Gray gevra of hy die man wat die dag in die BMW geklim het, in die hof sien.

Gray het na die mense in die hof gekyk en gesê daar is twee mans wat soos die man lyk wat in die BMW was.

Hy het die getuiebank verlaat en tussen die lede van die publiek geloop, voor ’n man gestop en na hom gekyk, maar omgedraai en sy hand op Packham se rug geplaas en hom as die man uitgewys.

Die BMW is op Visec se kameras vasgevang die dag toe Gill verdwyn het. Op die beelde kon sy ’n manspersoon die voertuig sien bestuur.

In kruisondervraging het Packham se regspan Gray se sig bevraagteken omdat hy ’n bril dra. Gray het gesê hy het sy oë ’n week gelede laat toets en voor dit ’n jaar tevore. Hy dra ’n bril vir lees en om ver te kan sien.

Gray het erken hy kon nie onthou of hy daardie dag sy bril gedra het nie.

Adv. Craig Webster SC, Packham se regsverteenwoordiger, het Gray gevra hoe hy ’n positiewe uitkenning kon maak as hy net vinnig die man in die voertuig gesien het.

Gray het volgehou hy het genoeg gesien om die uitkenning te kon maak.

Webster het later ’n pak nuusberigte aan Gray gewys en hom gevra of hy enige van dié berigte of foto’s van Packham gesien het. Die berigte handel oor Packham wat vir die moord op sy vrou in die hof verskyn het, met foto’s van hom op die voorblaaie van koerante.

Gray het gesê hy sou dit nie gesien het nie omdat hy nie regtig koerante koop nie.

Vroeër die dag het Tarryn Steed van Visec, ’n maatskappy wat voertuie se nommerplate op kamera vasvang terwyl hulle ry, getuig. Die BMW is op Visec se kameras vasgevang die dag toe Gill verdwyn het. Op die beelde kon sy ’n manspersoon die voertuig sien bestuur. Sy het getuig die voertuig het geen nommerplate gehad nie en dat dit in Boundary- en Kendall-weg afgeneem is. Dit is naby waar Gray die voertuig gesien het.

Die verhoor gaan Donderdag voort.

Meer oor:  Rob Packham  |  Gill Packham  |  Hof  |  Moordverhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.